RIEBEEK-KASTEEL – Lydia le Roux (90) woon nog alleen, kook haar eie kos, bestuur en skryf briewe vir haar kinders en kleinkinders.
Sy terg dat sy nie van ouderdom sal doodgaan nie, maar van te vinnig om draaie stap en haar dalk dood sal val.
Lydia het onlangs haar 90ste verjaarsdag saam met haar kinders en kleinkinders op die familieplaas, Vlakkenheuwel, gevier. Sy spog hoe sy self die koek vir haar verjaarsdagpartytjie gebak het.
Wat is die geheim vir haar uitstekende gesondheid? Lydia glo ’n mens moet die brein skerp hou. “Ek lees baie, lees elke dag koerant en vul blokkiesraaisels in,” sê sy en wys na die gehawende woordeboek wat ooglopend al jare se diens gedoen het. “Ek het ’n nuwe woordeboek, maar dis té volledig,” kla sy. Wat van gesonde eetgewoontes? “Ag nee wat! Ek is nou nie só soet nie. Ek geniet vandag nog ’n wyntjie saam met vriende. Dis die gesellige samesyn wat goed is vir ’n mens,” glimlag sy.
Lydia glo dit is nie gesond vir bejaardes om in afsondering te leef nie en is dankbaar dat sy gereeld kontak met haar familie het en tussen mense woon wat deel in mekaar se lief en leed.
Sy is oor twee dinge spyt: dat sy nooit die geleentheid gehad het om oorsee te reis nie en dat sy nie jonk genoeg is om moderne tegnologie soos Skype en Facebook ordentlik te kan benut nie.
Vir haar verjaarsdaggeskenk het sy haar familie vir ’n roosboom gevra wat sy in ’n pot gaan plant sodat hulle dit kan saamneem wanneer sy eendag nie meer daar is nie. “Wanneer hulle na die roosboom kyk, kan hulle aan my dink.”