Selfs al het jou vuurwapenlisensie verval, kan jy steeds aansoek doen om dit te hernu.
Die konstitusionele hof het dié beslissing Vrydag in die guns van die Fidelity-groep gemaak.
Die polisie het in 2016 ’n beleid ingestel wat bepaal mense wie se vuurwapenlisensies verval het en wat hul wapens by die polisie ingegee het, mag nié vir ’n nuwe lisensie aansoek doen nie.
Bheki Cele, die minister van polisie, het in die hofstryd sonder sukses aangevoer sulke wapens mag vernietig word sonder om die lisensiehouer (in hierdie geval Fidelity) die geleentheid te bied om ’n nuwe aansoek in te dien om ’n lisensie daarvoor te kry ten einde dit regmatig te besit.
“Die tydperk van die beslaglegging of oorgawe van die vuurwapen tot die vernietiging sal waarskynlik aansienlik wees. Etlike maande kan verloop voordat die vuurwapen waarop beslag gelê of wat by die staat ingegee is, aan die staat verbeur word,” lui regters Steven Majiedt en Owen Rogers se uitspraak.
Die hof het bevind dié interpretasie word versterk deur artikel 149 van die Wet op Vuurwapenbeheer, wat bepaal ’n vuurwapen mag slegs volgens sekere voorskrifte vernietig word en dit bly die eienaar se eiendom totdat dit vernietig is.
Die Fidelity-groep het die uitspraak verwelkom.
Hulle het die polisie se beleid aanvanklik in die hooggeregshof teengestaan, maar verloor. Die appèlhof het die hooggeregshof se uitspraak tersyde gestel.
Die minister van polisie het toe in die konstitusionele hof daarteen geappelleer.
Luidens dié hof se beslissing bly enigiemand – hetsy ’n individu of lid van die veiligheidsbedryf – die eienaar van ’n vuurwapen wat vir veilige bewaring by die polisie ingehandig is en mag die eienaar dus ’n nuwe aansoek vir ’n lisensie indien.
Sakeliga, die nasionale jag- en skietvereniging Gun Owners of South Africa en die Professionele Jagtersvereniging van Suid-Afrika het as vriende van die hof opgetree.
Tian Alberts, regs- en skakelbeampte van Sakeliga, sê in die formulering van die uitspraak en uiteindelike bevindings blyk dit Sakeliga was reg met sy argument dat die staat verplig is om wapeneienaars se regte op vryheid en veiligheid van die mens, en die reg om nie van eiendom ontneem te word nie, te beskerm, te bevorder en te verwesenlik. Die hof het bevind die minister se vertolking van die wet is verkeerd.
“Die wet moet op ’n wyse geïnterpreteer word wat met konstitusionele waardes en beskerming van eiendomsreg ooreenstem.”
Armand Greyling, regs- en risikobeampte by AfriForum, sê dié organisasie is die afgelope paar jaar oorval met navrae en klagtes van eienaars wat hul vuurwapens kwyt is weens laat hernuwingsaansoeke en ’n verkeerde vertolking van die ooreenstemmende wetgewing.
Hy sê van die wapens is deur die polisie afgeneem en daarna vernietig.
Die uitspraak maak dit duidelik dat dié praktyk nou strydig is met die bepalings van die vuurwapenwet.
Greyling sê AfriForum sal druk uitoefen dat prosesse ingestel word wat vuurwapeneienaars moet volg om hul lisensies wat verval het dringend te hernu.