Zuan Arendse van die Abbotsdale Lillies op ‘n kraglopie tydens sy span se wedstryd teen Moorreesburg by die Abbotsdale-sportterrein op 19 Julie. Foto: David Rossouw.

Die Abbotsdale Lillies het Saterdag (19 Julie) op hul tuisgrond teen die sterk Moorreesburg Samoa betree.

Dit was ‘n ware Swartland-derby – deel van die Grootuitdaagbeker-reeks van die Boland-rugbyunie – en die skare op die Abbotsdale-sportterrein is van die afskop af behoorlik vermaak met ‘n skouspel van hardloop-rugby vol drama en taktiek.

Die wedstryd se eerste punte het in die sewende minuut gekom toe Patrick Stevens vir Samoa ‘n strafskop oorgestuur het (0-3). Lillies het gou teruggeslaan; ná ‘n lynstaan in die 15de minuut het hulle ‘n losskrum naby Samoa se doellyn afgedwing, sterk gedryf en ‘n drie gedruk. Die doelskop was suksesvol en Lillies het die voortou met 7-3 geneem.

Samoa het kort daarna met ‘n vinnige tikskop en slim agterspel onder die pale gaan druk (7-10).

‘n Fout deur Lillies het hulle duur gestaan te kom en Samoa het weer oorgeduik (7-17). maar Lillies se vasteskrum het sy trots gewys en ‘n pragtige drie in die hoek het die telling op 12-17 gebring.

In die tweede helfte het die agterlyne aan beide kante flair en spoed gewys. Lillies het weer die telling gelykgetrek met ‘n drie in die regterhoekie (17-17). Daarna het ‘n hoogvat Samoa duur te staan gekom en tot ‘n geelkaart en ‘n strafskop gelei, wat Lillies in ‘n gunstige posisie geplaas het.

Samoa het egter ‘n strafskop teen die verloop gekry en oorgeskop (17-20). Ná ‘n kragtige skrum en geduldige opbou het Lillies weer gaan druk (24-20).

Die wedstryd het die skare op hul voete gehad met opwindende hardlooprugby en veral die Lillies- skare was opgewonde met die spel. Dit het nie net die telbord aan die rol gehou nie, wat uiteindelik 41-35 ná nog drieë en strafskoppe gewys het.

Nog ‘n hoogvat van Samoa het hul tweede geelkaart beteken en hul dissipline onder druk geplaas. Lillies het die geleentheid benut en die telling met ‘n strafskop tot 44-35 gerek. Die Lillies het teen die eindfluitjie met 47-40 gewen.

“Ons het baie goeie rugby gespeel, maar ons dissipline het ons weer in die steek gelaat. Ons het die bal by vier van hul lynstane afgeneem, maar in die vasteskrums was ons onder druk. Ons sal verbeter en ek glo ons sal slaggereed wees vir die volgende uitdaging”, het Samoa se afrigter, Janielle Karolus, gesê.

Op sy beurt het Denna Koopman, die afrigter van die Lillies, gesê: “Samoa het gewis gekom om rugby te speel. Hulle het ons harde bene laat kou, maar ons fisieke spel en kalmte onder druk was die verskil. Dit was ‘n ware toets, maar ons het gefokus gebly en ons gebring waar ons wou wees.”

Die Grootuitdaagbeker-wedstryd het gewys dat rugby in die Swartland gesond is en dat die gemeenskap met trots agter hul spanne staan – met karakter, gees en soveel hart.

Puntemakers:

  • Abbotsdale Lillies – Drieë: Wian Syster, Zuan Arendse (2), Rheinhardt Adonis (2), Eschel Josias en Delano Booysen; strafskoppe: Ethan Diston (2); doelskoppe: Diston (3).
  • Moorreesburg Samoa – Drieë: Llewarco Vries, Donelle Karolus (2), William Adonis en Keanno Riddles; strafskoppe: Stevens (3); doelskoppe: Stevens (3).

You need to be Logged In to leave a comment.