Vervolg vanaf bl.1

Veronique April (16), een van die leerders wat die optog gereël het, sê verandering in die skool is nodig. “Die staat moet sy belofte nakom waartydens gesê is almal is geregtig op basiese onderwys en gehalteonderrig. Almal in ons skool kort ten minste ’n regverdige kans om ’n sukses van hulself te maak.”

Volgens haar kan die leerders nie fokus nie en soms selfs nie eens skryf nie. “Die onderwysers kom nie by almal uit nie en nie almal kry die aandag wat hulle nodig het nie,” voeg sy by.

Mariska Adams, ’n onderwyseres wat Afrikaans vir die gr. 9-leerders gee, sê haar volste klas – en dit boonop in ’n opslaanklaskamer waartydens die kwik tot in die 50 °C kan klim – staan op 63 leerders. Sy sê sy kan self nie eens by die bord uitkom nie. Volgens haar weerspieël dit in die leerders se punte, maar die onderwysers kan op die oomblik nie aan elkeen aandag gee wat juis daardie hulp en ondersteuning benodig nie.

Die skoolhoof het ’n beroep op die leerders gedoen om eers vir terugvoer van die Wes-Kaapse departement van onderwys te wag voordat hulle weer die strate invaar om beswaar teen die oorvol klaskamers te maak. Leerders het Woensdagoggend besluit om weer ’n vreedsame optog te hou, waartydens hulle dié keer om die skoolterrein gestap het.

Volgens Panamore is die langtermynoplossing meer klaskamers. “Onderrig vind plaas, maar die getal kinders in die klas bemoeilik die leerproses.”

Dissiplinêre kwessies neem ook gevaarlik toe, sê hy.

Ouers is Maandagaand na ’n vergadering by die skool genooi waartydens die oorvol klaskamers onder meer bespreek is. Van die ander kwessies sluit in ’n tekort aan klaskamers, opvoeders, skoolbanke, toiletgeriewe, ’n vervoerskema en gedragsprobleme.

Gibson Mhlungulwana, die hoof van Ilingelethu Sekondêre Skool, sê van hul klasse het tot 70 leerders in ’n klas. Volgens hom is die terugkeer van die rotasiebywoningstelsel nie nou ’n oplossing nie.

Die skoolsaal word tans ingerig vir vyf klasse, wat gehalteonderrig onmoontlik maak, vertel hy.

Mhlungulwana, wat sedert 2020 reeds met die WKOD en die plaaslike kringkantoor in gesprekke is rakende die probleem, verkies dit om baie keer buite op die skoolterrein klas te gee, as gevolg van die tekort aan genoegsame ruimte in die klaskamers.

Leerders het die afgelope Donderdag ook die strate ingevaar uit protes weens hul leeromstandighede. Baie beloftes is gemaak dat nuwe klaskames voor die Desember-vakansie gebou sal word.

Getalle het sedert verlede jaar geweldig toegeneem. Die skool huisves tans 1 298 leerders, terwyl die skool met moeite en baie beplanning tot 1 000 leerders kan akkommodeer. “Dit is baie moeilik.” Hy weet die distrikskantoor het plaaslike skole aan die begin van die jaar juis oor dié probleem besoek. Die minister se woordvoerder het bevestig dat met die skool gekommunikeer word en versoeke vir meer mobiele klaskamers en onderwysers is ontvang.

Sy voeg by ’n vergadering sal later vandeesweek nog plaasvind.

Raynard de Jager, waarnemende hoof by Schoonspruit Sekondêr, sê op sy beurt die situasie onder Malmesbury se tekort aan genoegsame hoërskole, maar ook om Engelse huistaalleerders te akkommodeer, is kommerwekkend en ’n tikkende tydbom. De Jager was vanjaar reeds genoodsaak om nuwe leerders wat ’n plek soek, weg te wys as gevolg van ’n tekort aan ruimte. Hulle het tans gemiddeld 48 leerders in ’n klas, maar sê van die gr. 8-klasse huisves tot 50 leerders.

Volgens hom bestuur hulle tans die situasie tot die beste van hul vermoë, maar is dit eens dat die opslaanklaskamers ondraaglik is. “Ons het nog nie ’n probleem nie, maar dit is gewis nie normaal nie.”

Hy stem saam dat dissipline baie erger is sedert almal teruggekeer het. Hy meen die enigste oplossing is ’n nuwe hoërskool en moontlik ’n Engelse hoërskool.

Die departement beplan nie tans nóg ’n hoërskool vir Malmesbury nie. Hulle glo egter dat die nuwe skool wat in Moorreesburg gebou word, verligting vir skole in die dorp sal bring.

Altesaam 140 leerders van Moorreesburg gaan reeds in Malmesbury skool. Volgens die minister se kantoor word met elke skool in die provinsie gekommunikeer en saamgewerk, waartydens die individuele kwessies aandag geniet namate die beperkte begroting dit toelaat. “Die departement doen egter ’n beroep op leerders om nie verdere onderrigtyd te ontwrig nie,” maan Mauchline.

You need to be Logged In to leave a comment.