Leerder oorleef skêrvoorval

’n Ondersoek is van stapel gestuur nadat ’n graad-7-leerder van St. Thomas Primêr in Malmesbury ernstig met ’n skêr beseer is.


’n Ondersoek is van stapel gestuur nadat ’n graad-7-leerder van St. Thomas Primêr in Malmesbury ernstig met ’n skêr beseer is.

Die voorval, wat verlede Dinsdag (4 Februarie) op die terrein van die skool plaasgevind het, is deur die Wes-Kaapse departement van onderwys bevestig.

Die voorval het gedurende ’n pouse volgens ouers van leerders in die skool binne die seuns se ablusiegeriewe plaasgevind. “Die hele badkamer was onder bloed toe hulle op die seun afkom,” het ’n ma van nóg ’n graad-7-leerder, wat anoniem wil bly, vertel.

Die presiese omstandighede rakende die voorval kon nie deur die departement bevestig word nie. “Terwyl dit nog onduidelik is wat die oorsaak van die besering was, is dit ernstig. Onmiddellike mediese aandag was nodig,” het die woordvoerder Bronagh Hammond bygevoeg.

Die beseerde leerder is dadelik deur drie onderwysers per motor na die naaste hospitaal geneem kort nadat hulle op die toneel afgekom het. Die leerder is in ’n bestendige toestand en sterk steeds in die Swartland-hospitaal aan. Volgens die departement behoort die vinnige optrede deur die betrokke onderwysers geloof te word nadat die nooddienste volgens die skool se nuusbrief, wat die afgelope Vrydag uitgereik is, nie betyds kon opdaag nie.

“Volgens mediese personeel het hul vinnige optrede die leerder se lewe gered. Ons as skool is uiters dankbaar vir hul onselfsugtige en daadwerklike optrede in hierdie noodsituasie,” het die skoolhoof, Sharon Ziegers, by monde van die nuusbrief gesê.

Ziegers, wat nie by magte was om met die Gazette te praat nie, het in die nuusbrief gesê die voorval het stil en sonder leerders of opvoeders se wete gebeur ten spyte van onderwysers wat op terreindiens was. “Dit was ’n traumatiese ervaring vir die drie opvoeders wat by die noodhulp betrokke was,” voeg sy by.

Volgens die departement is dit steeds onduidelik hoeveel ander leerders by die voorval betrokke was, terwyl die nuusbrief bevestig het dat leerders se ouers reeds ingeroep is vir verdere gesprekke. Die skool het ouers gevra om met hul kinders te praat en hulle aan te moedig om nie met verkeerde vriende of moontlike bende-aktiwiteite betrokke te raak nie. “Die skool is ’n veilige hawe vir alle leerders en dit is belangrik dat almal saamwerk om hierdie veiligheid te verseker.”

Die skool het verder ’n ernstige beroep op ouers gedoen om seker te maak dat hul kinders nie enige skerp of gevaarlike voorwerpe skool toe bring nie.

Skêre sal voortaan deur die skool voorsien word en leerders hoef nie meer skêre van die huis af te bring nie, lui die nuusbrief.

“Die skoolbeheerliggaam sal die saak ondersoek en daar sal streng volgens die gedragskode teen alle betrokke leerders opgetree word.”

’n Woordvoerder van die Weskusdistrik-polisiekantoor, kapt. Tania Helfrich, het bevestig geen klagte is ná die voorval aangemeld nie.

Die onderwysdepartement het traumabehandeling vir die skool se leerders aangebied.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.