Die Laerskool Dirkie Uys in Moorreesburg bied gehalte-onderrig aan sy leerders.
Dié feit is onlangs gestaaf nadat die skool as die wenner van die Goeie Skool-toekenning onder laerskole in die Wes-Kaap aangewys is.
Die toekenning is deel van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) se toekennings van uitnemendheid, wat jaarliks aan toppresterende skole wat evalueer is, toegeken word.
Francois Smit, die hoof van LDU, het die prys op Maandag 23 November gedurende ’n spoggeleentheid by Sanlam se hoofkantoor in Bellville namens sy skool ontvang.
Volgens Smit bevestig die Goeie Skool-toekenning dat leerders gehalte-onderrig by LDU ontvang.
Dit volg nadat die skool vir die eerste keer deur ’n eksterne paneel (SEA) geëvalueer is.
“Dit is ’n groot prestasie vir die Laerskool Dirkie Uys om erkenning te ontvang vir al die jare se goeie opvoeding en diens wat gelewer is,” het Smit bygevoeg.
Die topskool het onder meer die toekenning vir Uitstekende Skool ontvang.
Smit meen die Laerskool Dirkie Uys streef daarna om een van die topskole in die land te wees.
Die kriteria wat evalueer word, sluit onder meer leerderprestasie in, asook die gehalte van onderrig en leervermoë, gedrag en veilige omgewing, leierskap en bestuur en die doeltreffendheid van die beheerliggaam en dié van die skool met betrekking tot sy verantwoordelikheid teenoor sy plaaslike gemeenskap.