Landbouers wat graangewasse verbou mag nou hul lande ter voorbereiding van planttyd wat om die draai is en vir voldoende onkruidbeheer, brand mits hul ’n geldige brandpermit het. Hoewel geen brandpermitte oor die algemeen vir die periode tussen 1 Desember 2024 en 31 Maart 2025 deur die plaaslike Weskus Distriksmunisipaliteit of die Swartland-munisipaliteit weens die hoë brandgevaar tydens die tydperk uitgereik word nie, is brandpermitte wel aan landbouers wat lid van hul plaaslike brandbeskermingsvereniging is en voor 1 Maart wil voorbrand maak, uitgereik. Indien beheerde brande op landbouers se eiendom voor 1 Maart sou plaasvind, moet ‘n geldige permit deur die plaaslike brandweer uitgereik word nadat ’n voldoende aansoek aan die plaaslike munisipaliteit gestuur is. Indien die gebied wat gebrand gaan word nie voldoen aan die korrekte vereistes nie, sal ’n permit nie uitgemaak word nie. Vanaf 1 Maart tot 31 April 2025 sal brandpermitte slegs vir boerdery aktiwiteite uitgereik word.

You need to be Logged In to leave a comment.