Die Wes-Kaapse departement van landbou het op 21 April met die wêreldwye viering van kreatiwiteit- en innovasie-dag met talle suksesse in dié sektor gepronk.
Dr. Ivan Meyer, die minister van landbou, sê dié dag is daarop gemik om mense te bemoedig om hul kreatiwiteit vrye teuels te gee en sodoende nuwe idees te skep, wat die wêreld ’n beter plek sal maak.
“Vernuwing is een van die Wes-Kaapse regering se kernwaardes,” meen Meyer.
Dié soort vernuwing het krag gegee aan die paneelbord van die Wes-Kaapse departement van landbou se landelike veiligheidsmonitering, wat vroeër vanjaar die kortlys vir die openbare dienslewering-vernuwingspryse gehaal het.
“Die instrument, wat binne die departement ontwikkel is, monitor landelike misdaad-voorvalle wat hotspots binne die landboulandskap identifiseer.”
’n Ander inisiatief, genaamd die hulpbronne-doeltreffendheidsprojek, het die goudmedalje in die afdeling vir replikasie en aanpassing van vernuwende oplossings gewen. Die prys is by die 19de prysuitdeling van die openbare sektor van vernuwings, wat op 25 Februarie in Johannesburg gehou is, ontvang.
“Ten spyte van Eskom se tariefverhogings, het die vernuwing die departement se munisipale water- en elektrisiteitsrekening verminder,” sê Meyer.
Die departement het in 2021 ’n e-handel-platform geskep om wynhandelsmerke wat deur swart sakelui bestuur word, ’n hupstoot in verkope te gee deur hul produkte oor Suid-Afrika heen te bemark.
“Die e-handel-platform mik om deelnemende ondernemings se verkope te verhoog en ook hul afhanklikheid aan die uitvoerbedryf te verlig en sodoende volhoubaarheid en suksesvolle landbouhervorming te verseker.”
Die lys vernuwings in die Wes-Kaapse departement van landbou gaan aan:
. CapeFarmMapper bied toegang tot verskeie landbou- en natuurlike hulpbronne se ruimtelike datastelle.
. Die satelliet-gebaseerde Fruitlook stel vrugteboere in staat om hul waterverbruik op optimale vlakke te bestuur.
. Verskeie hommeltuig-tegnologieë skep nuwe geleenthede vir die departement en produsente.
“Ek bemoedig departementele amptenare om die vlakke van vernuwing en kreatiwiteit aan te gryp en te volhou as deel van die kulturele reis wat Alan Winde, die Wes-Kaapse premier, tydens die provinsiale staatsrede in Februarie 2022 in Velddrif, aangekondig het.
“Ek wil ook graag ’n huldeblyk aan boere, belanghebbendes, produsente en werkers in die landbousektor opdra,” het Meyer gesê.