Ná 37 bedrywige jare in Malmesbury groet Hetta Saunderson die dorp aan die einde van Februarie. Vandag kyk sy terug en vertel van haar nuwe vooruitsigte:
Hetta se kennismaking met Malmesbury was vir ’n pos by (Giel) Swiegers en Smit, saam met manne soos Groot Tenk en Klein Tenk Loubser in die kantoor wat BGR De Jager Boshoff deesdae huisves.
Ná ’n vinnige draai in Stellenbosch het sy in 1985 as verkoopverteenwoordiger by Swartland Wynkelder begin werk.
“Ek het in Maresa-woonstelle – oorkant die sportkompleks – gewoon en by die sportklub aangesluit. Destyds het die hele gemeenskap naweke daar saamgetrek vir netbal, tennis, rugby en krieket, met ’n braai en dans daarna. Ek en manne soos Eddie Mostert en André Louw was later saam op die bestuur.”
Sportklubs moet geld insamel, en daarom het Hetta in 1988 ’n 20 uur lange deurnag-musiekmarathon met vyf orkeste wat mekaar uurliks afgelos het, reël. Hierdie marathons was saam met ’n mallemeule, stalletjies, osbraai en deurnagdansery ses jaar lank ’n reusetreffer.
By die kelder het sy gegroei en ontwikkel en as 32-jarige was sy lid van die bestuurspan. “My werk was bemarking, logistiek en uitvoer; ek moes toesien dat Swartland Wynkelder as handelsmerk orals sigbaar is. Ek het Swartlandwyne na feeste geneem, vir Jannie Moolman en Die Broers as kelder-ambassadeurs aan boord gekry en onderhandel sodat Swartlandwyn deel van die Egoli TV-reeks word. Daarna het Egoli selfs ’n paar opnames by die kelder kom skiet!”
Hetta sit selde stil, daarom was sy lank betrokke by toerisme- en sakekamerbesture. “Vir toerisme-ekspo’s moes ek en die WesGraan-skakelbeampte jaarliks Durban toe vlieg vir tipiese Swartland-uitstallings. Dan vrees ons heeltyd dat die mooie potbrood wat saamvlieg, sal begin muf! Iemand se raad om die brood deeglik met haarsprei te spuit, was ons redding – dan blink die potbrood die hele week lank en muf nooit!”
Sy en Bertina Horne het gereeld saam getoer. “Sy is die perfekte toermaat – soggens vroeg op en net so nuuskierig soos ek oor wat die inwoners eet en hoe hulle leef.”
Ná 23 jaar by die kelder het Hetta haar eie onderneming, M4 Events, begin. Veertien jaar het gevolg.
Sy bring akteurs en sangers Swartland toe, neem jaarliks verantwoordelikheid vir die Nampo-vroueprogramme en bemark ’n bekende wynlandgoed se wyne by nasionale kunstefeeste.
Die gewilde Dorp van die jaar-kompetisie is ook ’n Hetta-geesteskind voordat Kwêla dit verder geneem het.
M4 Events was betrokke by Malmesbury Museum se voedsel- en wynfees, en toe volg die MOL-feeste (“Musiek op die lande”). “Dit het groot finansiële inspuitings vir ons gastehuise, restaurante en vulstasies beteken. Maar toe verander die laaste fees se stormwind en reën die fees in ‘Modder op die lande’. Ons het die Saterdag alles probeer stop, maar 9 700 feesgangers wou aanhou! Dit was ’n anderste fees, en 110 stoele het net ‘verdwyn’ . . .”
Intussen het Hetta as vervaardiger vir Via se gewilde Skole Kook-program saam met die sjefs Tiaan Langenegger, Marinda Engelbrecht en later Mandi du Plooy geword. “Sulke produksies kos baie geld; ’n mens moet borge en ’n TV-kanaal hê wat in jou glo! Die jaarlikse samewerking van onderwysers in 22 skole oor die land heen was merkwaardig. Dis ’n harde mans-omgewing daarbuite. Ek moes altyd dubbeld so hard werk om myself te bewys en te vorder. Ek het baie gegroei en baie geleer, al moes ek dikwels stérk staan!”
Toe stop die pandemie alles. “Ons het almal geglo dit sal drie weke duur – toe word dit twee jaar. Ek moes aanhou planne maak! Dit het baie selfdissipline gevra om my kop positief te hou en net vorentoe te dink. Dit was ook die tyd van naby God kom en al my vrae na Hom toe neem. Daar is sowaar niemand anders nie.”
Hetta het Huiswinkels in Malmesbury geopen, maar die pandemie se derde vlaag het dié winkel laat sluit. Tussendeur het sy betaalde etes gemaak en uitgery.
Sy het ook gereeld die ekstra myl vir talle mense gestap: Sop en broodjies vir petroljoggies; kos en komberse vir haweloses; medikasie of blomme en bederfies vir mense wie se familie ver woon.
Hetta se oë blink weer, want ná twee jaar se onsekerhede is sy propvol nuwe vooruitsigte: “Al die planne wat tydens lockdown gemaak is, kan ons begin uitvoer! ’n Volgende Skole Kook-reeks begin binnekort, ek kan weer wyne bemark en daar lê opwindende dinge op media- en feesgebied voor.”
Sy verhuis nou Lambertsbaai toe.
“Ek gaan by my pa woon. Hy is eensaam na my ma se sterfte verlede jaar. Danksy tegnologie kan ek alle reëlings en vergaderings van daar af doen en ek sal net periodiek Kaapstad toe moet ry.
“Malmesbury is en was ’n groot deel van my hart. Pas jul dorp op en ondersteun plaaslike ondernemings en lewer goeie diens, dan sal dit goed gaan met Malmesbury.”