Laat jou tel vóór 14 Mei

Wes-Kaapse premier, Alan Winde, sê hoewel hy die verlenging van die 2022 sensus-opname deur Statistiek SA verwelkom, hy ’n dringende beroep op inwoners van dié provinsie doen om seker te maak hul word getel sonder verdere vertraging. Dit volg nadat S


Wes-Kaapse premier, Alan Winde, sê hoewel hy die verlenging van die 2022 sensus-opname deur Statistiek SA verwelkom, hy ’n dringende beroep op inwoners van dié provinsie doen om seker te maak hul word getel sonder verdere vertraging. Dit volg nadat Statistiek SA die spertyd vir die sensus-opname na 14 Mei verleng het. Winde se pleidooi volg nadat die Wes-Kaap ’n aansienlike laer sensus-telling in vergelyking met die land as geheel toon.

“Ek doen ’n beroep op inwoners om die verlenging te gebruik om getel te word, hetsy deur die vorm aanlyn in te vul of in persoon deur ’n sensus-veldwerker.

“Dit is eenvoudig – as ons nie ten volle getel word nie, sal ons nie ons regverdige porsie van die land se begrotingstoekenning ontvang om kritiese dienste soos skole, gesondheidsfasiliteite en ander openbare infrastruktuur te kan lewer nie.

“Ons het dus nou [11] dae oor om seker te maak dat ons provinsie behoorlik getel word. Tot op datum, is slegs 58% van die provinsie getel, so groot inspanning is alom nodig om seker te maak dat die sensus-opname ’n akkurate voorstelling van ons as provinsie gee,” het Winde gemaan.

Op sy beurt het Swartland-munisipaliteit se burgemeester, raadsheer Herold Cleophas ook sy steun agter die premier se pleidooi gesit:

“Ek wil ’n baie ernstige beroep doen op al die inwoners van die Swartland om seker te maak u word getel in Sensus 2022. Dit is krities belangrik dat al ons inwoners getel word. As ons data nie reg is nie sal ons nie ons regmatige toekenning vanaf die nasionale en provinsiale regerings kry nie. Ons sal ook nie weet hoeveel skole, klinieke, hospitale of polisiestasies en hulpbronne in ons area nodig is nie. As u nog nie getel is nie kan u na die skakel, https://getcounted.statssa.gov.za/#!/home gaan en die sensusvorm elektronies invul of u kan 0800 110 248 skakel. Die aanlynvorm is datavry, en die telefoonnommer is ook gratis. Die telling in die Wes-Kaap duur voort tot 14 Mei.

Maak seker u huishouding word getel. Ons toekoms hang van Sensus 2022 af.”

Indien ’n sensus-veldwerker jou huis besoek, kan jy ook in persoon die sensus-vraelys voltooi. Vir nog inligting skakel 0800 110 248 of epos census2022@statssa.gov.za.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.