Die kykNET- Buite-Ekspo Wes-Kaap word vanjaar weer op die plaas Môreson net buite Malmesbury die naweek van 25 tot 27 Maart aangebied.
Streng Covid-19-protokol sal soos vereis word toegepas word om almal op die terrein te beskerm.
Die ekspo beloof weer om soos altyd iets vir almal te bied. Die fokus is soos die afgelope paar jaar op die talle buiteluglewe-uitstallers wat van die nuutste produkte in die buitelewe-, kampeer- en 4×4-mark beskikbaar het.
Die geleentheid word in ’n veilige plaasatmosfeer aangebied en alle uitstallings word opgestel soos wat dit werklik deur die koper gebruik sou word.
Verskeie aktiwiteite word weer as deel van die ekspo aangebied. Vanjaar is Action Ford Malmesbury weer aan boord met die Ford Raptor-ervaring, waar die publiek gratis saam met ervare bestuurders kan ry om self te sien waartoe hierdie voertuig in staat is. Kom ervaar ook die gewilde helikopter-ritte en bekyk die Swartland uit die lug. ’n Lekker braaikompetisie sal weer aangebied word saam met Jimmy’s Sauces en kykNET-akteurs, en moenie vergeet van die Hankook-kunstenaars wat gaan optree nie, onder wie Rooies en sy orkes, Desmond Wells, Johan Liebenberg, Wynand Windpomp, Dewald Dippenaar, Chereé, Amoré en Early B!
Kom ry ook gratis saam met die immergewilde “Mnr 4×4” in sy VW Amarok, André de Villiers van André 4×4 en aanbieder van “Safari 4×4 Roetes” op kykNET.
Hierdie ervaring is iets wat 4x-aanhangers nie moet misloop nie.
Besoekers sal oudergewoonte nie teleurgestel word met die “vloeibare verversings” nie en dit beloof om weer uit die boonste rakke te wees asook met ’n groot verskeidenheid beskikbaar – enigiets van ’n verskeidenheid wyne in die Swartland Kelders-wyntuin (met heerlike kos wat hierby pas), tot bier en jou gunsteling-hardehout en nog meer. ’n Groot verskeidenheid kosverskaffers sal etes verkoop, en wie kan nou nee sê vir lekker feeskos.
Die vroue wat inkopies wil doen, kan die kuns- en snuffelmark besoek met ’n groot verskeidenheid gehalteprodukte wat beskikbaar sal wees.
Kinders word nie agterweë gelaat nie danksy ’n groot pretpark en Lollos en Lettie verras almal Sondagoggend met een van hul treffervertonings.
Onthou – hoewel baie aktiwiteite aangebied word, bly die fokus natuurlik op die top-buitelewe-uitstallings.
Beperkte kampering is op die terrein beskikbaar – stuur e-pos na admin@moresonmalmesbury.co.za. Jy kan ook verblyf in die deftige “glamping”-tente bespreek – stuur e-pos na ryno@you2camp.com.
Dagbesoekerskaartjies sal binnekort by ticketmaster.co.za en ook by die hekke gedurende die ekspo beskikbaar wees. Probeer eerder aanlyn kaartjies koop indien moontlik – dit vergemaklik dinge by die hek. . Besoek gerus die webwerf by www.ekspo.co.za en alle navrae kan gerig word aan Tersia by accounts@ekspo.co.za.