Stof daai dansskoene af en maak jouself gereed vir ’n aand van sang en dans.
Die Weskus-kuierkonsert vind Saterdag 2 April by die Laaiplek-hotel in Velddrif plaas. Die organiseerder Steyn Fourie sê mense kan uitsien na die groot verhoog en lekker musiek.
Die musiekkunstenaars Jakkie Louw, Elizma Theron, Pieter Smith en die musiekgroep The Banned sal almal vermaak met hul musiekklanke.
Fourie verduidelik dat kaartjies op ’n unieke manier verkoop word en kan net by ’n Spar of OK in Velddrif, Saldanha, Langebaan en Hopefield gekoop geword. “Wat die kaartjies so uniek maak, is dat dit uitgesny is in die vorm van ’n vissie en op die agterkant van die uitknipsel is daar ’n magneet sodat mense dit op hul yskas kan plak. Kinders kan ook uitsien na die magneet-visvang-item wat ook pryse op die spel plaas. Daar sal ook ’n gloeistok-kompetisie vir die kinders wees.”
Die pret stop nie net daar nie; daar sal ook gratis seekos-vingerhappies gegee word tussen 18:00 en 19:00.
“Dit is die grootste konsert wat Laaiplek nog ooit gehad het. Dit is ’n alles-in-een gesellige kuierkonsert met vermaak vir jonk en oud en baie meer waarde as dit waarvoor jy betaal het.”
Hekke maak om 16:00 oop. Kaartjies is R175 vir volwassenes, R50 vir kinders tussen ses jaar en 15 jaar, en gratis vir kinders tussen een en vyf jaar.