As jy iemand kan red, dan red jy hulle. Dit is waarom Carol Baadjie (63) aangehou het om haar jonger suster aan te moedig om teen Covid-19 ingeënt te word.
Op 17 Februarie het haar suster ingestem en die eerste Pfizer-dosis gekry. Carol het reeds haar inentings gekry, maar kon nie rus tot haar suster, Wendy Joseph (53) ook ingeënt is nie. Die entstof red lewens. Dit keer dat jy baie siek word van Covid-19, of selfs sterf.
“Dis baie belangrik dat jy dit moet kry,” vertel Carol toe sy haar suster na Callie De Wet-saal in Robertson geneem het. “Dit is beskerming vir jouself en vir jou huisgesin. Ons wil mos almal veilig voel in die huis waarin ons woon.”
Wendy het uitgestel om die inenting te kry, omdat daar baie vals inligting oor die entstof versprei is. Maar Carol het aangehou om haar aan te moedig. Toe sy sê dat hierdie beskerming teen ernstige Covid-19 belangrik sal wees vir mense wat moontlik permanente werk vir Wendy kan bied, het sy besluit om ook ingeënt te word.
Wendy was stil en tevrede nadat sy die entstof gekry het.
“Ek het niks gevoel nie!”
Carol beskou egter haar werk nie as afgehandel nie: Sy gaan seker maak Wendy kry haar tweede inenting oor twee maande én haar versterkingsdosis ses maande daarna.
Ousus het ook Wendy se volwasse kinders in die visier, want hulle het ook nog nie die entstof geneem nie.
“Jy hoef nie te vrees nie,” sê Carol. “Dis vir jou eie beswil. Ek en jy moet die voorbeeld stel. Ek is baie bly ek het dit gedoen.”
Gesondheidswerkers in die Langeberg herinner die publiek aan geleenthede om Covid-19-inentings, asook versterkingsdosisse te kry.
Besoek die fasiliteit naby jou:
Bergsig Kliniek: Vrydae
Cogmanskloof Kliniek: Dinsdae
Montagu Kliniek: Maandae en Vrydae
Happy Valley Kliniek: Vrydae
Calle De Wet Saal: Maandae tot Vrydae