David Kramer, die beskermheer van Donkey Sanctuary, het ’n spesiale liedjie oor donkies geskryf.


Donkies is dalk nie vir baie mense hoog op die belangrikheidsrangorde nie – behalwe vir dié wat steeds vir hul daaglikse bestaan van hierdie hardwerkende diere afhanklik is. Duisende donkies vervoer vandag nog goedere, boumateriaal, vullis, water en kos vir hul eienaars.

Eseltjiesrus naby McGregor is welbekend vir sy bewusmaking van hierdie diere se merkwaardige eienskappe, soos getrouheid en nederigheid.

Die legendariese musikant David Kramer het kort ná die ontstaan van Eseltjiesrus in 2008 ingestem om beskermheer van hierdie besonderse donkie-oord te wees.

Dr. Johan van Zijl, voorsitter van die Eseltjiesrus-raad, stel dit so: “Dit was ’n eer om hierdie gevierde en wyd gerespekteerde musiek- en teaterpersoonlikheid sedert die ontstaan van Eseltjiesrus te betrek.”

Kramer sê hy het nog altyd ’n sagte plekkie vir donkies gehad. “As kind het ek hulle gereeld donkiekarre sien trek; hul base het op hulle geskree en hulle is geslaan. Hulle het altyd moeg en verwaarloos gelyk. Dit was vir my onregverdig as hulle mishandel is.”

Kramer het die liedjie “Donkiehemel” geskep en opgeneem om bewustheid te skep van die lot van werkende donkies asook die welsynswerk wat by Eseltjiesrus naby McGregor plaasvind.

“Toe ek onlangs by Eseltjiesrus was, het iemand voorgestel ek skryf ’n liedjie vir hulle. Aanvanklik kon ek my nie indink wat ek oor donkies sou sing nie, maar die volgende dag het ek die transformasie by die meeste van hierdie diere gesien. Dit het by my opgekom dat Eseltjiesrus vir ’n mishandelde donkie soos die hemel moet lyk. Toe ek eers dié idee gehad het, het die liedjie redelik maklik gekom!”

“Donkiehemel”is op wêreld-donkiedag (8 Mei) bekendgestel.. Boekliefhebbers kan ook uitkyk na die Eseltjiesrus-boekefees wat vanjaar van 16 tot 18 Junie by die NG kerk Robertson-Oos gehou word. Duisende nuwe en tweedehandse boeke sal ten bate van die donkies by Eseltjiesrus te koop wees.

Nog inligting is beskikbaar by www.donkeysanctuary.co.za

You need to be Logged In to leave a comment.