Die Swartland-munisipaliteit se konsepbegroting vir die nuwe finansiële jaar is onlangs in die raad ter tafel gelê. Die konsepbegroting bevat die kapitale en bedryfsbegroting vir die nuwe boekjaar, wat op 1 Julie 2022 begin.
Elke jaar, voor die einde van Maart, lê die burgemeester die konsepbegroting vir die opkomende finansiële jaar en die daaropvolgende jare voor. Die konsepbegroting word dan vir openbare deelname gesirkuleer. Inwoners kry dus die geleentheid om te kyk na watter projekte die munisipaliteit in die nuwe boekjaar gaan uitrol en beplan.
Die hele begrotingsproses word streng deur wetgewing gelei. Inwoners sal veral belangstel in die voorgestelde tariefveranderings vir die nuwe finansiële jaar.
Die munisipaliteit sê elke jaar, wanneer die nuwe tariewe intree, ondervind hy inwoners is baie verbaas daaroor. Volgens die munisipaliteit word dit egter jaarliks geadverteer en is dit oop vir inwoners om insette te lewer.
“Die verantwoordelikheid om die konsepbegroting te bestudeer en insette te lewer, berus by ons inwoners. Die saamstel van die konsepbegroting en aanpassings in tariewe is ’n intensiewe proses omdat ons, as die munisipaliteit, deeglik bewus is van die uitwerking van besluite op elke inwoner se sak,” sê Joggie Scholtz, die munisipale bestuurder.
Hoogtepunte uit die konsepbegroting vir die nuwe 2022/2023 sluit in die kapitale begroting van R203 752 miljoen en die bedryfsbegroting van R1,026 miljard.
Die gemiddelde styging in tariewe is:
Eiendomstariewe: 4,9% vir wooneiendomme
Elektrisiteit: 7,75 % (dit is in pas met wat Nersa tans oorweeg)
Vullisverwydering: 7,5%. Dié styging, wat hoër as inflasie is, is omdat vullisverwydering tans teen ’n verlies gedoen word. Die voorsiening van ’n doeltreffende diens noodsaak dus ’n groter styging.
Riool: 5,9%
Water: Residensiële verbruikers – 4,5% vir die eerste 15 kiloliter, daarna 5,9%; 4,8% vir sakeondernemings en sportklubs, en 5,9% vir staatsinstellings.
Die munisipaliteit maak ook voorsiening vir hulpbehoewende inwoners. Geregistreerde hulpbehoewende huishoudings sal 6 kF water, 50 kwh elektriese eenhede en gratis vullisverwydering en riooldienste ontvang. Hulpbehoewende inwoners ontvang ook 100% afslag op eiendomsbelasting vir eiendomme wat teen minder as R105 000 gewaardeer word. Die waarde van die hele mandjie dienste waarmee hulpbehoewende inwoners gehelp word, beloop dus R924,56 per maand.
“As munisipaliteit is ons bewus dat hierdie stygings in tariewe baie inwoners sal ontstel. Dit is egter onmoontlik om dienste gratis te lewer. Om gehaltedienste te lewer, moet ons die tariewe aanpas. Ons het egter hard gewerk en beplan om seker te maak ons beperk die stygings tot ’n minimum. Die Swartland-munisipaliteit is een van die mees bekostigbare munisipaliteite wat dienslewering betref, en ons poog deurlopend om dit so te hou. “Vir die munisipaliteit om volhoubaar te bly, moet ons dus seker maak dat ons dienste bekostigbaar, maar ook realisties volhoubaar, gehou word,” sê Scholtz.
Inwoners word aangemoedig om hul insette op die konsepbegroting en die voorgestelde tariefaanpassings te lewer. Die sluitingsdatum is Vrydag 29 April. Die dokumente is op die Swartland-munisipaliteit se webblad asook by al die plaaslike biblioteke beskikbaar.
Mense wat nie kan lees of skryf nie, word aangemoedig om die munisipale kantoor in Malmesbury in kantoorure te besoek, waar hulle deur Nicolette Brand bygestaan sal word om hul kommentaar skriftelik te formuleer.
Navrae kan ook gerig word aan:. Hilmary Papier (2022-’23-konsepbegroting en verwante dokumente) by 022 487 9400 of per e-pos by PapierH@swartland.org.za. Olivia Fransman (GOP, SDBIP en areaplanne) by 022 487 9400 of per e-pos by fransmano@swartland.org.za.. Bergrivier-inwoners sal ook na verwagting binnekort heelwat meer vir hul krag, water en ander munisipale dienste moet opdok.
Die Bergrivier-munisipaliteit (BM) staan voor die moeilike taak om munisipale tariewe bogemiddeld te verhoog “om te verseker dat die finansiële volhoubaarheid van die munisipaliteit beskerm word”.
Só het Ray van Rooy, die burgemeester van die Bergrivier-munisipaliteit, verlede week op ’n raadsvergadering met betrekking tot sy voorlegging van die munisipale konsepbegroting vir 2022-’23 gesê.
Die voortgesette styging in die prys van elektrisiteit bly ’n bekommernis en die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) het bevestig dat die Eskom-verhoging aan munisipaliteite 8,61% sal beloop, wat ’n tariefverhoging van 7,8% aan die eindgebruiker tot gevolg sal hê.
Die voorgestelde tariefverhoging vir water sal 8,5% wees en vir riooldienste 10%.