Die wag is verby! Besoekers aan die jaarlikse Robertson Wine on the River kan dié naweek uitsien na ’n volgepakte naweek van pret en plesier by dié gewilde gesinsfees.
Met meer as 300 wyne van oor die 40 kelders, eersteklas eetgoed en musiek uit die boonste rakke lok die jaarlikse Wine on the River, wat op die skilderagtige oewerplaas Goudmyn op die R317 tussen Robertson en Bonnievale plaasvind, jaarliks groot getalle besoekers.
’n Opwindende nuwe toevoeging tot die fees is die eerste jaarlikse Duck Derby, aangebied deur Sanlam Alternatiewe Beleggings in samewerking met Karin’s on Main bed-en-ontbyt in Bonnievale.
Vir R100 kan feesgangers op ’n genommerde plastiekeendjie wed in die hoop dat dié eerste by die fees oor die wenstreep sal swem en aan jou ’n kontantprys van R5 000 besorg. Ondernemings kan vir R1 000 aan die korporatiewe wedren deelneem. Die wenner van dié wedren sal R5 000 vir ’n diensbillike instansie van sy of haar keuse wen.
Die opbrengs uit die Duck Derby sal geskenk word aan die Bonnie-People-projek in Bonnievale, wat inwoners van dié dorp help met die bou en ontwikkel van volhoubare komponente in hul gemeenskap, wat fokus op die toekoms van hul kinders.
Met spesiale toegangspryse vir pensioenarisse, en kinders onder 18 jaar geniet gratis toegang, terwyl die aktiwiteite vir kinders op ’n deurlopende betaal-basis werk, is dié fees ’n moet vir die kalender.
Gerieflike toegewese parkeerareas sal duidelik op pad na die terrein gemerk wees. Vir besoekers wat ver van die terrein parkeer sal daar ’n pendeldiens wees om hul na en van die fees te vervoer.
Met wyne wat op die terrein teen kelderpryse verkoop word, bied Robertson Wine on the River die perfekte geleentheid om jou voorraad aan te vul met jou gunsteling Robertson-wyne, wat bekend is om hul uitstekende waarde vir geld, van alledaagse tot eersteklas-wyne.
Vir meer inligting oor die fees en besonderhede oor verskillende aanbiedinge, besoek die webtuiste www.wineonriver.co.za.
Kaartjiepryse vir die fees wissel van R80 tot R130 vir die Saterdag en Sondag en R160 tot R250 vir ’n naweekkaartjie. Vir volle besonderhede oor die pryse besoek www.webtickets.co.za