Baie mense vra my die vraag hoekom ek dit gedoen het. Ek is nie seker of hulle reken ek is al te gevorderd in jare en of hulle net nie so iets met my assosieer nie, of dalk albei.
Al wat ek weet, is dat ek bly is dis verby; afgehandel; finito; ikabod. Dit voel nogal goed, amper soos om graad te vang. Al verskil is eksamens het my gewoonlik nie naastenby so senuweeagtig gemaak nie.
Maar ek het dit ook nie sommer so sito-sito reggekry nie. Ek het die eerste keer gedop, sommer vir ’n simpel rede. Die meeste mense dop gewoonlik die eerste keer – statisties slaag net 33% van kandidate die eerste keer. En die res? “Please make another appointment.”
Ja, vriende, toe maak ek maar “another appointment” vir die K53-toets om my swaarvoertuiglisensie te kry – sestien ton en op. Ses maande lank het ek twee keer per week na ’n ander dorp gery waar tannie Retha my geleer vragmotor bestuur het.
Moet nooit ’n vrou onderskat nie.
Weke en weke lank het dit deur my kop gemaal: spieël, blindekol, flikker, weer blindekol, en “draai nou wyd, my kind”. “Ry tot in die middel van die kruising met die perd en draai nou vas sodat die wa kan omkom sonder dat die wiele die sypaadjie raak.”
En by die robot: “Hou jou hande op die stuur totdat die voertuig heeltemal tot stilstand gekom het!”
Soms vergeet ek, dan hoor ek “ek gaan jou hande aan die stuurwiel vasplak!”
Jammer, tannie Retha.
Net vanoggend lees ek in die koerant ’n leser se brief waarin sy skryf hoe irriterend leerlingbestuurders is, want hulle kruie voort teen 20 km/h en ontwrig die verkeer. Daarmee stem ek saam. ’n Paar keer het iemand met skreeuende bande verbygejaag gekom toe ek nog ’n leerling was.
Maar hoe dan anders?
Leerlingbestuurders word juis – by wyse van spreke – aan die diep kant ingegooi om die verkeer gewoond te raak. Kom die toetsdag, moet hulle vir niks bang wees nie, want dan is tannie Retha nie daar om jou hand te hou nie.
Op die toetsbaan moet jy teen ’n bult stilhou en wegtrek. Loop die voertuig ’n millimeter terug, druip jy summier. Verderaan moet jy met wa en al 40 m reguit agteruit ry sonder dat enige wiele die wit strepe raak. En dan die groot toets: Ry met die wa agteruit, maak ’n 90-grade-draai en parkeer die wa presies tussen die twee rye paaltjies – alles in een beweging.
Ek kry dit reg. Tannie Retha sit van doer af haar hande teen mekaar, en ek doen dieselfde – dankie tog; baantoets geslaag, nou strate toe. “Lets go, brother, lets go,” sê die toetsbeampte. Ek kyk elke vyf sekondes in my spieëls, skakel die ratte op presies 1500 revs, en nooit terwyl jy draai nie – eers daarna.
Terug by die kantoor skryf mnr. Abrahams groot op die toetsvorm: PASS. Maar ek bewe nog. “Ek sien die senuwees pla ’n bietjie,” seg hy, maar ek teken.
Toe ek daar wegry, weet ek my emmerskoplysie is nog een korter. Wat is volgende?