Malmesbury-rolbalklub
se seisoen skop Saterdag 3 Oktober om 14:00 af.
Soos met alle ander sporte is die vorige seisoen tot op 21 Maart tot stilstand geruk weens die Covid-19-pandemie en is almal
opgewonde om weer hul geliefde sportsoort te kan hervat. Alle belangstellendes
is welkom om deel te neem. Daar is rolbalballe beskikbaar; spelers moet ’n
gewone platsool- of geringe hakskoen dra om nie die perk te beskadig nie.
Die
regulasies van Covid-19-beperkings vir vlak 1 bepaal dat ’n register gehou moet
word, spelers van tyd tot tyd hul hande moet reinig en ’n 1,5 m-afstand van
mekaar sal handhaaf. Maskers hoef nie tydens spel gedra te word nie, maar wel
in die klubhuis waar normale restaurantreëls geld. Altesaam 48 spelers mag
tegelyk op ’n perk wees, wat alle formate van die spel sal huisves. Bring
verkieslik eie handreinigers saam.
Belangstellendes wat wil aansluit by die klub kan gerus vir Roux
Vermeulen op 083 478 9616 of
022 482 1228 en
Daniël
Griebenauw op 072 398 9041 bel.
Sosiale spel is hoofsaaklik Dinsdae en Donderdae vanaf 18:00 en Saterdae vanaf
14:00. Spelers moet verkieslik sowat 10 minute voor die tyd aanmeld sodat
spanne uitgesit kan word.
Sakeliga-rolbaltoernooi
Die
Sakeliga-toernooi vind vanjaar op 2, 4, 5, 9, 10, 11 en 12 November plaas met
die eindstryd wat op 18 November gespeel sal word.
Die
klubbestuur sê hy hoop om vanjaar al die mense te sien wat jaarliks belowe om
te kom speel en ook sommer sal aansluit as lede.
Die
inskrywingsgeld is na R300 verlaag om die finansiële impak van die pandemie te
versag. Nuwe klublede mag vir drie jaar lank steeds aan die sakeliga-toernooi
deelneem, so lidmaatskap moet jou nie afsit om te mag deel neem nie.