’n Kitaar-afrigter van Strand het nie toegelaat dat Guillain-Barre-sindroom sy drome in die wiele ry nie.

Pieter Coetzee (73) speel al van jongs af kitaar, maar toe hy in 1980 begin kitaar afrig, het hy op sy werklike roeping afgekom.

“My pa het ’n orkes gehad en ek het altyd my oog op die kitaar gehad – ek wou altyd kitaar speel. Ek het toe besluit om ’n kitaarboek te koop en het myself leer speel,” sê Pieter.

Hy het baie mense leer kitaar speel en later vir groot name soos Dozi, Kurt Darren, Juanita Du Plessis, Coleske, Kevin Leo, Patricia Lewis, Thys die Bosveldklong, Liezl Pieters, Karin Hougaardt, Innes Benade en Dozi gespeel.

“Iets wat steeds vir my uitstaan, is toe ek vir die beroemde Smokey ’n vertoning in Rustenburg kon open.”

Pieter se kitaardrome het in 2004 amper ineengestort toe Gillian-Barre-sindroom by hom gediagnoseer is.

“Ek het baie spiere weens die verlamming verloor. Die spiere van my linkerhand se ringvinger en pinkie het glad nie gewerk nie. Maar toe begin ek weer kitaar speel en daardie twee vingers het weer begin werk en is nou amper weer 100% funksioneel.”

Pieter het sedertdien sy kitaarskool in Pretoria geopen en ook by baie skole kitaarlesse gegee.

“Ek verkies dit om individueel lesse te gee, want dis makliker om jou student te wys hoe hy/sy die kitaar moet vashou en watter armbewegings hulle moet maak. Dis net makliker so. In ’n groep is dit moeilik om aan ’n ieder en ’n elk aandag te gee, en daar is altyd een wat vinniger as die ander leer en dan is daar altyd een wat stadiger as almal anders leer, want elkeen leer maar op sy of haar eie spoed.”

Nie net is Pieter ’n briljante kitaarspeler en afrigter nie, maar hy het ook sy eie materiaal ontwerp wat studente leer om kitaar te speel.

“My swaer het destyds vir my vrou vertel sy moet weet as sy met my trou, trou sy met ’n kitaarman. Sy het dit so aanvaar, want ek moes baie aande tot laat toe by vertonings speel.”


. Pieter bied tans kitaarlesse in Strand aan. Enigiemand wat in sy lesse belangstel, kan hom gerus by 083 390 6121 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article