Altesaam 14 passasiers, onder wie kinders, is Sondagaand (7 Oktober) in ‘n ernstige botsing tussen ‘n Kia-bakkies en ‘n Mercedes-Benz op die ou Kalbaskraal-pad buite Malmesbury beseer. Die plaaslike polisie ondersoek ‘n klag van roekelose en nalatige bestuur nadat die twee voertuie omstreeks 19:00 in ‘n botsing reg van voor betrokke was.
Hoewel niemand in die botsing dood is nie, het nooddienwerkers ure lank geworstel om insittendes wat in die bakkie vasgekeer was, uit te sny. Die insiitendes vol jeugdiges het kort voor die voorval ‘n kerkdiens bygewoon. Dit is in hierdie stadium onduidelik in watter rigting hulle onderweg was.

Volgens sers. Henry du Rand, ‘n woordvoerder vir die Malmesbury-polisie, het die bestuurders van albei voertuie ernstige beserings opgedoen.
Du Rand sê die insittendes is almal van die Chatsworth-omgewing. Al 14 beseerdes is met ambulanse na die Swartland-hospitaal geneem vir behandeling.
Die ongelukstoneel is teen 22:00 opgeklaar.






You must be logged in to post a comment.