Kay-Lee Mouton bewaarheid droom

Kay-Lee Mouton (15), ’n Graad 10-leerder van die Hoërskool Dirkie Uys in Moorreesburg, het onlangs golwe gemaak toe sy die gewilde Valsbaai-opewaterswem as die jongste swemmer nóg in die geskiedenis voltooi het.


Kay-Lee Mouton (15), ’n Graad 10-leerder van die Hoërskool Dirkie Uys in Moorreesburg, het onlangs golwe gemaak toe sy die gewilde Valsbaai-opewaterswem as die jongste swemmer nóg in die geskiedenis voltooi het.

Die vorige rekordhouer is Amber-Rose Berry, wat 16 jaar oud was toe sy die opewaterswem voltooi het.

Kay-Lee het met haar tweede probeerslag daarin geslaag om die Valsbaai-roete van 33km vanaf Miller’s Point in Simonstad tot by Rooi Els binne nege ure en 28 minute te voltooi.

Volgens Kay-Lee was dit ’n droom van haar om die roete te swem – iets wat sy ’n jaar en ’n half gelede begin koester het. Kay-Lee bieg en sê enige swemmer kry hul negatiewe oomblikke in die water, maar sy het hierdie een baie geniet.

Haar geheim tot die suksesvolle uitdaging was om die roete slag vir slag te vat, wat haar uiteindelik nader aan haar droom gebring het.

Dié swem was vir haar meer as net ’n doelwit. “Dit was vir my as mens om binne en buite die water te verbeter.” Haar eerste poging tot die Valsbaai-opewaterswem het volgens Kay-Lee nie volgens plan verloop nie. Sy was genoodsaak om weens talle bloublasiesteke uit die water te klim. “Ná so ’n groot terugslag is dit baie belangrik om jou kop positief te hou, maar ook om jouself met positiewe mense te omring,” voeg sy by. Kay-Lee het ná die eerste poging op 24 Januarie weer in die water geklim en nege ure en 28 minute later by Rooi Els uitgeklim.

Die droom wat uit slegs gesprekke rondom ’n koffietafel spruit, voel steeds vir haar onwerklik.

Nou fokus sy om die grootvyf-opewaterswemroetes klaar te maak, gevolg deur ’n opewaterswem in die Engelse Kanaal.

Die vraag wat almal haar vra – is jy nie bang vir haaie nie? “Ek is nie bang vir haaie nie. Ek het ’n baie groot ondersteuningsbemanning gedurende die geleenthede (georganiseer deur Big Bay Events). Hulle maak seker dat die water te alle tye veilig is.”

Sy dra ook dié mylpaal op aan haar afrigter, Paulo Gabriels van Tapergo Aquatics, wat haar help voorberei het. Kay-Lee moes elke week sowat 55km in die water kafdraf. “Hy het ook my oefenprogram aangepas om daardie hoeveelheid kilometers per week te kan swem. Ek kon dit gewis nie sonder hom en my familie en vriende wat my ondersteun het, gedoen het nie. Hulle speel ’n ongelooflike groot rol in my droom.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.