Franzel September is die Boland-Kavaliers se nuwe hoofafrigter.
Die Boland-rugbyunie het hom in Desember amptelik as die hoofafrigter van die Boland-Kavaliers aangestel.
Sy hulpafrigter is Morné Kurtz.
Bennie van Rooi, president van die Boland-rugbyunie, het die aankondiging by die Boland-stadion in Wellington gedoen.
September was hulpafrigter van Boland-Kavaliers onder die hoofafrigter Randall Modiba terwyl Kurtz voorheen as die breier van die Boland se o.20-span aangestel is, maar hy kon weens die Covid-19-pandemie nie begin afrig nie.
September het amptelik van 1 Januarie 2022 af met sy voorbereiding vir die 2022-kompetisies begin. Beide September en Kurtz is vir ses maande aangestel om die Kavaliers in die eerste afdeling van die Curriebeker-kompetisie af te rig.
Van Rooi sê: “Dit was ’n maklike besluit omdat September, wat ’n Bolander in murg en been is, aan te stel. Hy is ’n trotse Bolander wat voorheen kaptein van die Boland was en het ook as junior vir die unie uitgedraf en kom deur ons strukture.
“Ek wil dit duidelik stel – ons het weens die Covid-19-pandemie besluit om nie die pos te adverteer nie en kontinuïteit te handhaaf. Die besluit is vergemaklik omdat September en Kurtz reeds in die stelsel is. Ons het dus besluit om hulle vir ’n tydperk van ses maande aan te stel.”
Die 35-jarige September het van 2010 tot 2017 die Boland-Kavaliers as losvoorspeler en kaptein verteenwoordig.
September sê: “Dit is vir my ’n groot eer en voorreg om as afrigter te dien. Afrigting is my passie en ek hou daarvan om ’n invloed op mense se lewe te hê. Boland was maar nog altyd ’n voedingsbron vir ander spanne. Ek sien veral uit om met ons eie Bolandse klub se kinders te werk en hulle die geleenthede te gee om hulself te bewys sodat hulle daardie geleenthede kan aangryp.”