MONTAGU – Die Villagers-Montagu-rugbyklub het sy reeks vriendskaplike rugbywedstryde ter voorbereiding van die Boland rugbyunie se ligakompetisies, wat op 23 April afskop, met ’n laaste wedstryd teen Saldanhabaai op die King Edward sportgronde op Montagu, afgesluit.
Ondanks die Weskussers se lang en uitputtende rit van ongeveer 300 km van Saldanhabaai na Montagu, het die spelers nog genoeg woema in hul pype gehad om redelik maklik met hul gasheer klaar te speel.
Saldanhabaai, tans nog die Boland-rugbyunie se klubkampioen, het die vriendskaplike wedstryd teen Villagers 17-6 gewen nadat hy rustyd reeds 12-3 voor was.
Die besoekers se voor- en agterspelers het goed saamgespeel. Voorlangs het die voorspelers die een na die ander bal-optel-en-dryf-fase van stapel gestuur.
Telkens wanneer dié stormlope deur die tuisspan gestuit is, is die bal na die agterlyn gestuur waar die tuisspan se verdediging verder onder druk geplaas is.
Dit het die tuisspan laat skarrel om al die gate toe te stop, wat hy ongelukkig nie altyd reggekry het nie.
Marvin Slingers, die haastige linkervleuel van Saldanha, en John van der Vent, die agtsteman, het in die eerste helfte deur die tuisspan se verdediging gedring en elk ’n drie gedruk. Morné Jacobs, Saldanha se skrumskakel, was suksesvol met een doelskop.
Die tuisspan het nou en dan met baie belowende bewegings vorendag gekom, maar ongelukkig vir hom het daar dadels van gekom – hoofsaaklik as gevolg van die besoekers se rotsvaste verdediging.
In die tweede helfte het Jaydee Coetzee, losskakel van die besoekers, weer eens die tuisspan se lakwerk geklop en sy span se derde drie aangeteken, maar die verdoelskop was mis.
In teenstelling met die tuisspan was die besoekers se keerwerk uitstekend. Die tuisspan kon geen gapings in die besoekers se mondering vind nie en was aangewese op strafdoele pale toe om punte op die telbord te probeer kry.
Villagers-Montagu se losskakel, Maxwell Klaasen, het al sy span se punte (6) met twee strafdoele aangeteken – een in die eerste helfte en die ander nadat die spanne kante geruil het.