Die Suid-Afrikaanse Kaasfees het pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging dat buitelug-venues nou 50% vol mag wees, met vreugde aangehoor en moedig kaas-en-wyn-liefhebbers aan om dit onmiddellik te begin benut.
Fees-entoesiaste sal dadelik baat deur ’n kaartjie teen ’n verlaagde prys te koop.
Eenders, maar avontuurlustig anders
Die SA Kaasfees innoveer vanjaar deur oor twee naweke by twee verskillende bestemmings aan die Weskus en in die Wynland op te wip: Saterdag 23 en Sondag 24 April by Groote Post buite Darling aan die Weskus, en Saterdag 30 April, Sondag 1 Mei en Maandag 2 Mei by Sandringham buite Stellenbosch.
Kaartjies kos R290 per dag.
Die feestye is van 10:00 tot 18:00 daagliks.
Die eerste twee Opwip-geleenthede by Warwick (2 en 3 April) en Benguela Cove (9 en 10 April) vind nie meer plaas nie.
Volgens Johan Ehlers, uitvoerende hoof van Agri-Expo, die organiseerder van die SA Kaasfees, kan hulle die kapasiteit van besoekers nou by Sandringham verhoog en ’n ekstra feesdag op die Werkersdag-vakansiedag toevoeg.
Ehlers sê gaste kan dieselfde unieke ervaring van gehalte waarvoor die SA Kaasfees reeds vir twee dekades bekend is, verwag.
’n Covid-19-toegangsbeleid van bewys van inenting of ’n negatiewe toetsuitslag sal van toepassing wees.
Kaartjies is by Webtickets (bit.ly/sacheesefest-popuppicnics) en Pick n Pay te koop. Geen kaartjies sal by die hekke verkoop word nie.
Slegs ’n beperkte aantal kaartjies is beskikbaar.
Besoek www.cheesefestival.co.za of kontak Agri-Expo by tel 021 975 4440 of admin@agriexpo.co.za vir nog inligting oor die 2022- SA Kaasfees.