Kaasfees uiteindelik terug

Die bekroonde SA Kaasfees keer ná twee jaar terug – maar dié keer in ’n splinternuwe baadjie.


Die bekroonde SA Kaasfees keer ná twee jaar terug – maar dié keer in ’n splinternuwe baadjie.

Kaas- en wynliefhebbers kan uitsien na ’n maand lange viering van kaas in April, waartydens ’n reeks opwip-pieknieks oor vier naweke by gewilde bestemmings in die Kaapse Wynland tot Walkerbaai en die Weskus aangebied sal word.

’n Verskeidenheid uitstallers sal by elke SA Kaasfees-opwip-piekniek alles van plaaslike, internasionale en boetiekkase aanbied sowel as uitgesoekte wyn, bier en jenewer, asook ander plaaslike produkte.

Besoekers kan ook uitsien na gratis vermaakprogramme met van Suid-Afrika se voorste kunstenaars, interaktiewe proe-ervarings met bekende sjefs en opwindende aktiwiteite.

Kaapse wynlande:

Piekniek-liefhebbers kan op 2 en 3 April op die grasperke van die wynlandgoed Warwick tussen Stellenbosch en Kaapstad kom uitspan.

’n Verskeidenheid uitstallers gaan wyne van die omgewing, asook kaas en ander eet- en drinkgoed geskik vir ’n piekniek, aanbied. Die vermaakprogram op albei dae sluit ’n optrede deur die musiekgroep Watershed in.

Hermanus:

Op 9 en 10 April kan belangstellendes die wynlandgoed Benguela Cove Lagoon buite Hermanus verken.

Die plaas bied uitsigte op die omliggende strandmeer en die Atlantiese Oseaan en het heelwat lekker doendinge vir alle ouderdomme.

Gedurende die opwip-pieknieks sal van Benguela Cove se landgoedwyne beskikbaar wees, sowel as ’n verskeidenheid uitstallers en ’n opwindende musiekprogram.

Ard Matthews gaan die Saterdag optree en Francois van Coke en sy groep, Die Gevaar, die Sondag.

Weskus:

Op 23 en 24 April lei die SA Kaasfees se paaie na die wynlandgoed Groote Post aan die Weskus.

Groote Post is ’n 18de eeuse plaas waar jy wyne wat die uniekheid van die streek se wingerde weerspieël, kan geniet. Besoekers kan uitsien na plattelandse gasvryheid, uitstallers met kaas en ander lekkernye, bekroonde wyne van plase in die omgewing en boetiekbier en -jenewer.

Die vermaakprogram sluit ’n optrede deur Die Heuwels Fantasties die Saterdag en Francois van Coke en Die Gevaar die Sondag in.

’n Langnaweek in die wynland

Die laaste SA Kaasfees-opwip-piekniek is van 30 April tot 1 Mei langs die damme op Sandringham buite Stellenbosch.

Besoekers kan ’n verskeidenheid interessante kaas-, kos- en drankuitstallers en lekker vermaak verwag. Die program sluit optredes deur Die Heuwels Fantasties en Will Linley die Saterdag in, en Flat Stanley en Kurt Darren die Sondag. Slegs 2 000 kaartjies sal per dag vir die pieknieks op Sandringham beskikbaar wees.

Wat moet jy weet?
. Kaartjies kos R350 per dag met besoekerstye van 10:00 tot 18:00. . Kaartjies is beskikbaar by Webtickets asook in Pick n Pay-winkels. . Geen kaartjies sal by die hekke verkoop word nie. . Slegs ’n beperkte aantal kaartjies is by elke bestemming beskikbaar en streng Covid-19-protokol sal geld.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.