Jy is spesiaal – durf die wêreld daarmee aan

Wat sien jy as jy in die spieël kyk? Vroue is dikwels geneig om die beeld wat na hulle terugstaar met meer kritiek te bejeën as wat geregverdig is. Redes hiervoor is daar legio. Slaan ’n tydskrif oop, of skakel die televisie aan en jy word bombardeer met beelde van wat die wêreld as “mooi”…


Wat sien jy as jy in die spieël kyk?

Vroue is dikwels geneig om die beeld wat na hulle terugstaar met meer kritiek te bejeën as wat geregverdig is. Redes hiervoor is daar legio.

Slaan ’n tydskrif oop, of skakel die televisie aan en jy word bombardeer met beelde van wat die wêreld as “mooi” of “aanvaarbaar” beskou. As mens mooi daaroor dink is die plankdun skoonhede wat as die norm voorgehou word by verre in die minderheid. Dit is iets om aan te dink . . .

Skoonheid is ’n relatiewe begrip. Wie bepaal in elk geval wat binne die grense van mooi is en wat nie?

Min dinge maak so seer soos kwetsende aanmerkings. Die impak op die persoon aan die ontvangkant kring veel wyer uit as wat dikwels besef word.

Eers is daar die aanvanklike seer wat veroorsaak word, maar dan begin neerhalende opmerkings dikwels soos ’n kanker verder vreet. Die onsekerheid begin knaag, terwyl selfbewustheid toeneem.

Ironies genoeg is dit dikwels vroue wat hulle tot venyn wend.

Met Vrouemaand wat verlede week amptelik afgeskop het, is dit ’n goeie tyd om te besin oor jou optrede, ook jou woorde teenoor ander vroue.

Nie almal is dieselfde nie. Elke vrou het haar eie deugde, haar eie skoonheid, daardie íéts wat haar uniek maak.

Ongeag jou foute en wat ander mag sê, God het jou na Sý beeld gemaak. Wie is ander dan om te oordeel?

Wanneer dit voel of die wêreld sy rug op jou draai, of wanneer ander jou in seerkry laat wegkrimp, gaan staan voor die spieël en kyk met God se oë na jouself.

God het jou van genoeg waarde geag om die tyd af te staan om jou te maak, net soos jy is. Jy is Sý skepping. Een waarop Hy trots is en lief genoeg het en die grootste moontlike offer voor gegee het.

Om jou te distansieer van die wêreld se opinie is nie maklik nie, maar dalk moet ons nou, in dié Vrouemaand, die besluit maak om onsself lief te hê.

Die lewe gooi genoeg ander uitdagings – veeleisende beroepe, gesinne om te onderhou en vele ander – na vroue om ons nog te verknies oor hoe aanvaarbaar jy in die oë van ander is.

Gaan staan vandag voor die spieël en kyk jouself vierkantig in die oë. Sien die kosbare wese wat God geskep het en besef dan dat dít wat eintlik saak maak, binne jou lê. Jy is sterk. Jy is spesiaal. Lig daarom jou kop met trots en durf die wêreld met dié wete aan

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.