Jongmense van die Sewendedag Adventistekerk op Robertson het Saterdag 19 Maart hul na minderbevoorregte kinders van Robertson en omliggende gebiede uitgereik.
Dié jongelinge het as deel van die kerk se globale jeugdagvieringe ’n uitreikaksie by die Breede River Winelands Community Learning Centre (CLC) gehou.
Die tema van vanjaar se jeugdag was “Loving the forgotten”, ’n tema wat persoonlik op die hart van hierdie jonges lê.
“Die wêreldwye jeugdag word elke jaar oor die hele wêreld heen gehou. Jongmense van die Sewendedag Adventistekerk kom bymekaar en goeie dade, sowel as uitreikingsprojekte, word aangepak,” verduidelik Marlo Jooste, een van die plaaslike koördineerders.
“In Mattheus 10:42 lees ons: ‘En elkeen wat een van hierdie kleintjies net ’n beker koue water laat drink, omdat hy ’n dissipel is, voorwaar, Ek sê vir julle, hy sal sy loon sekerlik nie verloor nie.’ En dis uit hierdie oogpunt – om verligting te bring – dat die projek aangepak is. Dit is om liefde en aandag te betoon aan ander wat dit werklik benodig.”
Jooste sê hulle het vroeg die oggend by die CLC bymekaargekom. “Die dag was vol pretaktiwiteite, motiveringstoesprake en ook voorleggings van gesondheidsbewustheid, aangebied deur Harold Cupido en sy groep uit Northpine, Kaapstad.”
Aan die einde van die program is 110 kospakkies vir die leerders en leerkragte uitgedeel, sowel as 50 pakkies toiletware en leesstof.
Johanna Booysen, ’n leerkrag by die CLC, kon nie haar dank genoeg uitspreek nie.
’n Verdere 40 oorblywende kospakkies is vir haweloses uitgedeel.
Jooste sê hy is baie dankbaar dat hierdie geleentheid vanjaar kon plaasvind nadat dit die afgelope twee jaar weens die Covid-19-pandemie nie kon geskied nie.
“Die naweek was verfoei met onrus en geweld in die dorp. Daar was ’n tekort aan noodsaaklike items as gevolg hiervan, maar die projek kon voortgaan sonder onderbrekings.
“Ons wil ook net ’n hartlike dank uitspreek aan al die borge en vrywilligers wat die dag moontlik gemaak het.”