MONTAGU – Die lewenspad van ’n jongman is op die vooraand van Kersfees, op ’n wrede wyse kortgeknip.
Hy is Vrydagaand 17 Desember, met ’n mes doodgesteek. Die voorval het in Muskadelweg plaasgevind.
Francois Conradie (21) is minstens twee keer raakgesteek. Hy is in die linkerarm en rug gewond en het op pad na die hospitaal aan sy wonde beswyk.
Na bewering het Conradie twee mans wat op pad Ashbury toe was, genader. ’n Argument het tussen hom en een van die twee mans ontstaan. Gedurende die stryery het Conradie glo weggegaan en later saam met ’n persoon in ’n motor teruggekeer. Na bewering het hy en die persoon wat saam met hom in die motor opgedaag het, die man met wie hy vroeër in ’n woordewisseling was, begin slaan. Die man het na bewering ’n mes uitgepluk en Conradie daarmee gesteek.
Conradie en sy maat het daarna in hul motor gespring en na die hospitaal gehaas. Met hul aankoms by die Montagu-hospitaal is die ernstig beseerde Conradie egter dood verklaar.
Lt-kol Gerrit Wewers, stasiebevelvoerder van die Montagu-polisiekantoor, het die voorval bevestig. Hy het ook gesê ’n 23-jarige verdagte is in hegtenis geneem en word van moord aangekla.