Sang en musiek – veral die kuns om opera te sing, interesseer Dewald Erasmus al van ’n jong ouderdom.
Sy belangstelling is só erg dat hy dit aan die Universiteit van Kaapstad gaan studeer het. Sy paadjie met musiek het hom na die Ad Libitum-musiekakademie in Robertson gelei, waar hy nou klasgee.
“Ek hou van kleins af baie van musiek. Ek het op vierjarige kitaarlesse begin neem en in graad 3 klavierlesse. Op hoërskool het ek musiek as vak geneem en ook begin sing. Dit was juis toe dat my musiekonderwyser my aangeraai het om vir ’n oudisie vir die UK te doen. Ek het my oudisie geslaag en BMus gaan studeer, waar het ek meer oor opera geleer het. Ek was altyd bekoor oor hoe operasangers so kan sing, hoe hul stemme so ver sonder ’n mikrofoon kan strek,” verduidelik hy.
Dewald, wat tenoor sing, wil nou sy kundigheid en kennis met die jonges van sy tuisdorp, Robertson deel.
“Hier is soveel talentvolle jong mense in die dorp. Ek wil hulle help leer oor musiek en hulle help om hul liefde vir sang en musiek verder te neem.”
Dewald wou al ’n lankal by die akademie aansluit, maar die lewe het hom met ’n ompad na sy doel gelei. Hy bied tans sang, klavier en musiekteorie by die akademie aan, asook musiek as ’n vak by ’n hoërskool in die dorp, waar hy ook hul koor afrig. . Besoek die Ad Libitum-webblad by www.adlibitum.co.za vir nog inligting oor hoe om by sy musiekkennis baat te vind, .