Jo-Dolphin APD kóók in suksesvolle Jo-Pot

Die geld wat in vanjaar se suksesvolle Jo-Pot-potjiekoskompetisie ten bate van Jo-Dolphin APD, ’n sentrum vir mense met gestremdhede in die Swartland, ingesamel is, is onlangs deur Darling Cellars oorhandig.


Die geld wat in vanjaar se suksesvolle Jo-Pot-potjiekoskompetisie ten bate van Jo-Dolphin APD, ’n sentrum vir mense met gestremdhede in die Swartland, ingesamel is, is onlangs deur Darling Cellars oorhandig.

Die potjiekoskompetisie en veiling wat vroeër vanjaar (in September) plaasgevind het, was weer eens ’n wegholsukses waartydens sakelui, kosliefhebbers en ywerige potjiekos-makers hul beste potjiekosresepte in die soeke na die potjiekoskampioen voorberei het.

Hierdie geldinsamelingsgeleentheid, wat jaarliks groei, is vir ’n derde jaar deur Darling Cellars aangebied.

Groot opgewondenheid het geheers toe Lebona Paarl Labels se pot as die algehele wenner van Jo-Pot 2024 aangekondig is. Pryse ter waarde van R23 000 is deur getroue skenkers geborg.

Darling Cellars het onlangs ’n tjek as deel van die internasionale maand van mense met gestremdhede tussen 3 November en 3 Desember, wat fokus op die bewustheid en regte van mense met gestremdhede, aan Jo-Dolphin oorhandig.

Jo-Dolphin het in ’n verklaring hul dankbaarheid teenoor Darling Cellars en almal wat betrokke was met die reëlings vir die kompetisie uitgespreek en gesê Jo-Pot beskou dit as hul grootste geldinsameling nog. Die organisasie het benadruk hoe belangrik samewerking tussen die sakesektor en die gemeenskap is om die nodige hulp aan mense met gestremdhede te bied.

Danksy die sukses van Jo-Pot 2024 word reeds met die beplanning van volgende jaar se byeenkoms gewoeker.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.