Inwoners stig Montagu-forum

Calvin Pekeur, tesame met ander gemeenskapslede, het verlede jaar die Montagu-gemeenskapsforum gestig om ander te hulp te snel.


Calvin Pekeur, tesame met ander gemeenskapslede, het verlede jaar die Montagu-gemeenskapsforum gestig om ander te hulp te snel.

Die forum is twee maande gelede geregistreer en dus wil hulle die gemeenskap verder in kennis stel van die dienste wat hulle lewer.

“Die doel van die forum is om ’n stem vir die gemeenskap van wyk 7 en 12 te wees. Ons is nie-polities en fokus daarop om aandag te gee aan mense se klagtes en hulle daarmee te help. Ek en ’n paar ander gemeenskapsleiers het dit goedgedink om saam te staan en mense se alledaagse probleme aan te pak,” verduidelik Pekeur, die stigter en voorsitter van die forum.

Verder verduidelik Pekeur dat hulle ’n WhatsApp-groep begin het en 250 mense is tans deel van die groep.

Die doel van die WhatsApp-groep is om dit makliker vir mense in die gemeenskap te maak om hul klagtes aan die forum te stuur.

“En ook dat ons te alle tye bewus is van wat in Montagu aangaan. As dit ’n rumoer is, kan ons vinnig die polisie in kennis stel, of as daar ’n brand is, kan ons vinnig die brandweer ontbied.”

Hy voeg by dat dit deel van die forum se visie is om misdaad, geweld, onwettige smokkelhuise en werkloosheid uit te roei.

“Ons is op die oomblik besig om klein sakeondernemings te help om hulle te laat registreer sodat daar werkskepping vir die jonges in Montagu kan wees. Ons wil ook hulp verleen aan kerke en organisasies sonder winsoogmerk om hul gemeenskapsprojekte suksesvol te maak,” verduidelik hy.

Die forum hou elke maand ’n vergadering met die gemeenskap om inwoners op hoogte te hou van die vordering van hul klagtes.

Die bestuur kom twee keer per maand bymekaar om die vordering van klagtes onder mekaar te bespreek.

Pekeur sê hulle wil graag ander dorpies in die Langeberg-streek aanmoedig om soortgelyke forums te stig.

“Dit is belangrik dat lede van ons gemeenskappe hul eie stemme moet kry – stemme wat nie aan politieke partye behoort nie – om sodoende gouer by oplossings te kom.”. Belangstellendes wat nog inligting benodig of hulp van die forum wil versoek, kan Calvin Pekeur by 060 885 2992 kontak.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.