Inwoners krap kop

Onsekerheid onder talle inwoners van Malmesbury heers rakende ’n grondgebruik-aansoek wat hul woonbuurt moontlik kan raak.


Onsekerheid onder talle inwoners van Malmesbury heers rakende ’n grondgebruik-aansoek wat hul woonbuurt moontlik kan raak.

Dít volg nadat ’n aansoek vir die hersonering en onderverdeling van ’n erf (erf 1220), geleë tussen Pinard-, Sarel Cilliers-, Geldenhuys en St. Thomasstraat, in Maart in die plaaslike koerante en op 15 Maart in die nasionale gazette verskyn het.

Die voorstel behels dat dié erf, wat aan die staat behoort, hersoneer word vanaf residensiële sone 1 na onderverdelingsgebied om voorsiening te maak vir ’n owerheidsone. Volgens inwoners beteken dit volgens die aansoekdokument kan strukture vir die staat opgerig of aktiwiteite aangebied word, naamlik ’n militêre opleidingsfasiliteit of instellings, ’n polisiekantoor of korrektiewe inrigtings. Vir die provinsiale regering beteken dit padkampe/stasies kan ingerig word, en vir openbare diens ook ’n telekommunikasiefasiliteit. Vir die munisipaliteit kan dit enigiets tussen ’n brandweer-, afvalwater- of watersuiweringsbeheerpunt insluit, asook ’n plek vir vullisbeheer, reservoirs, komposteringsaanleg of vir verblyf of kantore vir nooddienspersoneel.

Altesaam 19 inwoners in Malmesbury, wie se wonings aan dié erf grens, is verlede maand per pos daarvan in kennis gestel. Inwoners is egter onseker oor wat nou eintlik vir dié erf beplan word nadat verskillende gerugte die ronde doen dat dit onder meer ’n kantoor vir die departement van korrektiewe dienste kan insluit.

Die aansoek dui verder aan die ou huis op die erf, ’n kategorie 3- historiese huis, gebou tussen 1894 en 1918, deur sowat 20 personeellede gebruik kan word.

Inwoners van die buurt vrees dat die karakter van dié goed gevestigde woonbuurt in die gedrang sal kom indien die aansoek goedgekeur word.

Verdere bekommernisse sluit onder meer veiligheid in, die instandhouding van die erf en dus ook die ou huis daarop geleë, die bewaring van die historiese aspek ter sprake, die waarde van omliggende eiendom en die moontlike versteuring van hul rustige woonbuurt en paaie.

Die Swartland-munisipaliteit kon nie op vrae rakende wat presies vir die erf beplan word, reageer nie.

Volgens Joggie Scholtz, die munisipale bestuurder, is die betrokke grondgebruik-aansoek tans onderhewig aan ’n openbaredeelnameproses.

“Die munisipaliteit kan nie kommentaar lewer op die aansoek totdat die proses voltrek is nie.”

Enige inwoner of ander belanghebbende partye is welkom om die stadbeplanningsafdeling by die munisipaliteit te kontak om meer besonderhede te verkry en die betrokke lêer met al die inligting daarin te bestudeer. Die openbaredeelnameproses sluit Dinsdag 19 April 2022.

Enige skriftelike kommentaar, hetsy ter ondersteuning of teenkanting, kan per e-pos gestuur word na swartlandmun@swartland.org.za of per gewone pos na die munisipale bestuurder by Private sak X52, Malmesbury, 7299.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.