Kom gerus vandag saam met my op ’n uitstappie die toekoms in. Want wat vandag nog nie moontlik lyk nie, is môre ’n werklikheid.
So voorsien ek die dag dat daar baie minder voertuigongelukke sal wees. Nie net sal die spoedbeperking in dorpe na 50 km/h verlaag wees nie, maar niemand sal dit kan oorskry nie om die volgende rede:
Die Parlement sal wetgewing goedkeur wat elke voertuigeienaar sal verplig om ’n toestel te installeer wat outomaties die enjin afskakel as hy vinniger as 50 km/h in die dorp probeer ry. Op die langpad sal dit op 90 km/h vasgestel word.
’n Mens kan net dink hoe die taxi’s dit gaan hanteer, want die regering laat toe dat hulle vir die een vrag mense na die ander jaag. Soos ek die SA politiek ken, sal dit wel bewimpel word dat taxi’s van die toestel kwytgeskeld sal word.
Ewenwel, so sal niemand meer boetes vir spoedoortredings kan kry nie, want dis onmoontlik om te jaag.
Ek hoor nou die dag ’n voëltjie fluit wat my laat regop sit het. By ’n baie gevaarlike kruising is daar net stoptekens, geen verkeersligte nie. Beroepe op die stadsraad om verkeersligte aan te bring, val op dowe ore. Elke spitstyd is dit so hittete of iemand sterf daar in ’n botsing.
Toe sê die stadsraad daar was nog nie botsings nie en minstens drie moet eers by die kruising plaasvind voordat verkeersligte oorweeg sal word. Bid jou dit aan – hygend hert, het ek reg gehoor?
Plaaslike owerhede wil alte graag ons geld hê, maar vra nou net vir ’n verkeerslig of spoedbulte, en jy kry 10 000 absurde, byna bisarre, verskonings waarom dit nie moontlik is nie. Want sien, iemand moet eers doodgaan, dan skrik die owerhede dalk uit hul honderdjaar-slaap wakker.
Vanmelewe het my ma so ’n ligblou Peugeot 404-stasiewa gehad en gereeld boetes gekry. Dis nou wanneer hy wel in die winter aan die gang gekom het. Toe installeer my pa ’n toestel hier by die stuurwiel wat ’n onaardse geraas maak sodra sy 60 km/h oorskry. Pa moes toe vir ’n rukkie in die dikbekkamer slaap, maar die boetes het opgehou inkom.
Vanoggend hoor ek in die media ons sal binnekort kan kies tussen regte, egte vleis en vleis wat in ’n tenk gekweek is. En skielik is die toekoms nou hier, want daar word al lank oor gekweekte vleis gepraat.
Wetenskaplikes het sopas daarin geslaag om ’n hoenderborsie in ’n tenk te kweek. Ons sal dus kan kies tussen free range-hoender en tenkhoender. Die voordeel is niks hoef geslag te word nie en geen koppe en pote hoef verwyder te word nie.
Uit net een sel-biopsie kan talle sulke hoenderborsies gekweek word. Niks wat vir die mens skadelik kan wees, soos antibiotika, word bygevoeg nie. Daar is geen afval nie en geen hoenders om te voer nie. Klink na ’n wenresep!
Jou hoenderburger sal boonop in die toekoms deur ’n hommeltuig by jou deur afgelewer word – met hoender vars uit die tenk!