HSS-leerder beste in Afrikaans

Jani Steyn (18) van Malmesbury, wat onlangs in die derde posisie onder die Hoërskool Swartland se beste presterende matrikulante van 2024 geëindig het, pronk met die beste Afrikaanse punt in die provinsie.


Jani Steyn (18) van Malmesbury, wat onlangs in die derde posisie onder die Hoërskool Swartland se beste presterende matrikulante van 2024 geëindig het, pronk met die beste Afrikaanse punt in die provinsie.

Steyn het daarin geslaag om ’n gemiddeld van 97% vir die vak Afrikaans Huistaal in haar nasionale senior sertifikaat-eindeksamen (NSS) aan te teken.

Sy skryf dié goeie punt toe aan die feit dat sy baie Afrikaanse boeke lees – ’n geliefde stokperdjie wat sy maar eers in graad 10 opgeneem het. “Dit is omtrent al wat ek sedertdien lees. Ek het nog altyd geglo om goed in tale te doen, moet jy baie lees,” vertel sy en deel graag die raad vanuit haar koshuiskamer in Stellenbosch met leerders, maar ook enigiemand wat in ’n taal wil presteer.

Volgens haar is Afrikaans as taal nog baie relevant en belangrik. Haar hoop is dat die taal nog ’n helder toekoms in die land sal hê. “Afrikaans is deel van kultuur en dit beteken so baie en gee mense ’n sin van behoort,” voeg sy by.

Steyn, wat vanjaar met haar LLB-graadkursus aan die Universiteit Stellenbosch afgeskop het, meen Afrikaans sal haar altyd na aan die hart lê.

Irvan Turner, Steyn se voormalige onderwyser in Afrikaans Huistaal, sê op sy beurt dat Steyn ’n hoogs begaafde meisie is wat akademies en op sportgebied uitgeblink het. Sy het in haar graad-11-jaar boonop ook die SA tennisspan vir o.19-meisies behaal, vertel hy trots.

“Sy is baie belese, wat haar woordeskat en taalbeheersing ’n groot hupstoot gee,” meen hy.

Vir puik prestasie in ’n taal, moet jy goeie onderrig oor jare ontvang, puik aantekeninge hê en bereid wees om hard te werk, verduidelik Turner verder.

Hy brei uit en vertel meer oor hoe sy kollega Christiana Blom en haar vakspan by die HSS reusewerk in graad 8 en 9 doen. “Die Hoërskool Swartland se Pitkos vir vraestel 1, voorgeskrewe leesgidse vir vraestel 2 en Stelwerkhandleiding vir vraestel 3 is deur baie jare met sorg deur ervare onderwysers met vele jare se ondervinding in NSS-nasien saamgestel.

“Die HSS het ’n trotse rekord van topprestasie in Afrikaans Huis- en Addisionele Taal,” voeg Turner by.

Volgens hom is die skool gereeld onder die 20 bestes in die land wat die meeste A-simbole in Afrikaans Huistaal per getal leerders betref. Die HSS het volgens die Skole-ondersteuningsentrum se verslag oor die nasionale matriekuitslae vir 2024 die dertiende posisie landswyd beklee.

“Ons het verlede jaar 36 A’s uit die 126 kandidate behaal. Steyn het 97%, gevolg deur Anike van der Merwe (wat die skool se topmatrikulant was) met 96% vir haar Afrikaans Huistaal.

“Dit is ’n uitsonderlike prestasie en die Swartland gemeenskap is ongelooflik trots op haar,” voeg hy by.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.