Honger magies in Bonnievale weer uit Luxemburg gevul

Die Bonnie People-projek is op ’n missie om seker te maak die kindertjies van agtergeblewe gemeenskappe in Bonnievale kry net die beste.


Die Bonnie People-projek is op ’n missie om seker te maak die kindertjies van agtergeblewe gemeenskappe in Bonnievale kry net die beste.

Die projek word deur Bonnievale Projects, ’n organisasie in Luxemburg, gefinansier.

Theuns Coetzee, die voorsitter van Bonnie Projects SA, die Suid-Afrikaanse hoofstuk, sê hulle gebruik die geld om drie skooltjies in Bonnievale te ondersteun.

“Ons kyk tans na die Bonnie People-skooltjie, Kapteintjies en Happy Valley. Ons maak seker dat die kinders gereelde maaltye kry, die nodige sorg tydens hul tyd by die skooltjies asook naskoolse sorg waar ouer kinders met hul huiswerk gehelp word,” verduidelik Coetzee.

Die maaltye word deur Bonnievale Emergency Feeding Scheme (BEFS) gemaak en uitgedeel.

“BEFS het in 2020 in die eerste nasionale inperking begin. Ons maak vandag nog elke dag seker die kinders by al drie skooltjies het iets te eet – selfs op openbare vakansies en in die skoolvakansie. Ons maak kospakkies, en dit word dan uitgedeel. Maar dis nie net vir in ’n lyn kom staan vir kos nie. Ons het ’n stelsel waar mense moet registreer, en wanneer ons die pakkies uitdeel, sal by jou naam gemerk word of jy ’n pakkie kom haal het of nie,” verduidelik Barbara Viviers, die stigter van BEFS.

Verder verduidelik sy die register word elke drie maande hersien.

“Mense moet aan sekere vereistes voldoen om ’n kospakkie te kry. Elke drie maande re-evalueer ons die register, want ons wil nie hê mense moet eind-uit van ons afhanklik wees nie. Ons wil hê mense moet werk kry sodat hulle self na hul gesinne kan omsien. Ons het ook ’n welsynswerker wat op bystand is wanneer ons die pakkies uitdeel. Sy praat met die mense om hulle te help en veral om stappe te neem wanneer daar sprake van geslagsgebaseerde geweld is.”

BEFS kry skenkings van verskeie organisasies, individue en plaasboere in die vorm van, onder meer, vrugte en groente. Hulle bestuur ook drie sopkombuise waaruit amper 290 etes elke dag uitgegee word.

Coetzee sê hul finansiering werk op ’n siklus vir drie jaar. “Ons het onlangs die kontrak vir nog drie jaar se finansiering geteken. Die begroting is drie keer groter vir die volgende drie jaar en gee ons die geleentheid om nog projekte te voltooi en te begin waarby die gemeenskap sal baat.”

By die Bonnie People-skooltjie is daar ook ’n groentetuin en voorbereidings vir nog ’n gebou het ook begin. Altesaam 245 kinders woon die drie skooltjies by en 45 kinders sluit elke middag by die naskoolse klasse aan. Die naskoolse leerders kry ook elke middag kos en ’n peuselhappie.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.