Van links staan die span van RAW met Gill Barrett, Judi Frewen, Nicano Mood en Clare Eksteen wat die inentingsveldtog teen hondesiekte in Esterhof en Blikkiesdorp van stapel gestuur het.
Van links staan die span van RAW met Gill Barrett, Judi Frewen, Nicano Mood en Clare Eksteen wat die inentingsveldtog teen hondesiekte in Esterhof en Blikkiesdorp van stapel gestuur het.

‘n Hoë persentasie gevalle van hondesiekte het onlangs weer sy kop onder inwoners se honde in Esterhof en Blikkiesdorp in die omgewing van Riebeek-Kasteel uitgesteek.

Die dierewelsynorganisasie in Riebeek-Kasteel, Riebeek Animal Welfare (RAW), het die afgelope twee weke inentingsveldtogte in samewerking met die Malmesbury-dierehospitaal vir inwoners met ‘n lae inkomste van stapel gestuur om hul honde teen die siekte in te ent.

Die eerste geval van hondesiekte is op Maandag 16 Junie deur die RAW geïdentifiseer.

Volgens Judi Frewen is 48 positiewe gevalle van hondesiekte teen die afgelope Saterdag (28 Junie) bevestig. “Geen behandeling vir hondesiekte bestaan ongelukkig nie en daarom moes die honde wat met die siekte besmet was, uitgesit word om hul lyding te beïndig,” voeg Frewen hartseer by.

‘n Ongelooflike 234 honde was teen Saterdagoggend danksy RAW teen die siekte ingeënt. Frewen voeg by dat RAW vir die res van die week honde teen die siekte gaan inent om die uitbreking daarvan stop te sit en die gemeenskap se troeteldiere te beskerm.

Volgens dr. NJ Heyns, ‘n plaaslike veearts by die Groenkloof-dierekliniek in Malmesbury en Riebeek-Kasteel, is dit belangrik om te onthou dat die siekte, wat ‘n algemene siekte onder veral jong honde is, voorkombaar is deur honde daarteen in te ent. “Hondesiekte is ‘n standaard siekte wat deel is van ons inentingsprotokol.

DEEL VAN EERSTE INENTINGS

“Babahonde word gewoonlik op die ouderdom van ses weke as deel van hul normale inentings teen die siekte ingeënt, opgevolg deur ‘n tweede inenting vier weke later.”

Hy brei uit en verduidelik dat die siekte, wat hoogs aansteeklik is, die oorsaak van ‘n hoë persentasie vrektes onder honde is. Die siekte tas onder meer die spysvertering- en asemhaling-stelsel aan en kan tot permanente senuweeskade lei.

“Die simptome is gewoonlik ‘n etterige uitloop by die neus, erge diareë en later verlamming, stuiptrekkings en spierrukkings wanneer die senuweestelsel aangetas word. Dit is daarom belangrik dat honde se inentings op datum moet wees.”

Janica Chapman, ‘n dieregesondheidstegnikus van die Wes-Kaapse departement van veeartsenykunde in Malmesbury, is dit eens dat die siekte ‘n algemene siekte is en kom veral in landelike en minder gegoede gebiede voor waar honde nie as ‘n reël ingeënt word nie. “Wanneer honde die siekte kry, is dit gewoonlik sekondêre infeksies wat behandel word.”

Hondesiekte is volgens haar nie ‘n staatsbeheerde siekte nie, maar talle diere-organisasies soos RAW het veldtogte om honde te laat in-ent.

“Dit is ongelukkig meer algemeen as wat ‘n mens dink.”

Inwoners in die omgewing van Esterhof in Riebeek-Kasteel staan in rye met hul troeteldiere om teen hondesiekte ingeënt te word.
Inwoners in die omgewing van Esterhof in Riebeek-Kasteel staan in rye met hul troeteldiere om teen hondesiekte ingeënt te word. Foto: Verskaf

VOORKOMBAAR DEUR INENTING

Louise van Zyl, ‘n inspekteur by die Swartland- en Weskus-DBV, herhaal dit is belangrik om te weet dat hondesiekte voorkombaar is deur inenting. “As ‘n dierewelsynsorganisasie wat aktief in die gemeenskap werk, deel ons uiteraard die kommer oor sulke uitbrekings en ons neem dit ernstig op.”

Die DBV bied die basiese inentings (insluitend teen hondesiekte) by hul mobiele klinieke teen ‘n verminderde tarief van R120 aan.

“Dit is die kosprys waarteen ons dit aankoop. Hondsdolheidsinentings, asook ontwurming en dip, is gratis by hierdie klinieke,” moedig Van Zyl inwoners aan om hul vierpotige vriende te bring.

Die DBV doen ‘n beroep op alle troeteldiereienaars om toe te sien dat hul diere se inentings altyd op datum is – veral wanneer daar sprake is van ‘n uitbreking, soos nou.

“Hondesiekte is uiters aansteeklik en versprei maklik – selfs deur eenvoudige kontak met ‘n besmette hond, gedeelde water- of kosbakke of bloot deur nabyheid.”

Frewen voeg dankbaar by dat die plaaslike gemeenskap hul veldtog met ope arms ontvang het. “Ons het ongelooflike ondersteuning van die Riebeekvallei-gemeenskap en ons toegewyde vennote by die Malmesbury-dierehospitaal ontvang. As dit nie vir hulle was nie, sou ons nie die krisis kon hanteer nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.