’n Huis in Moorreesburg is verlede Saterdagaand (19 Maart) deur vlamme verswelg.
Die brand het omstreeks 19:46 by dié huis, wat uit twee skakelhuise bestaan het, uitgebreek. Vier mense wat hier gewoon het, is deur die brand geraak.
Die Swartland-brand-en-reddingsdienste was ses minute later op die toneel. Die brand is eers om 00:30 finaal geblus. Een inwoner is volgens die brandweerdienste vir ligte brandwonde behandel, terwyl nóg ‘n inwoner vir rookinaseming behandel is.
Harriet Pressly, een van die inwoners, was die enigste wat nie ten tyde die voorval tuis was nie. Haar hond, Halsie, is in haar slaapkamer aan rookinaseming dood. Pressly het haar verlede jaar aangeneem nadat ’n plaaslike veearts van Malmesbury haar gered het toe sy deur ’n voertuig in Wesbank getref is.
Volgens Pressly is die regterkantste deel van die huis heeltemal verwoes en het sy 90% van haar besittings verloor. ’n Gedeelte van haar kombuis is die minste beskadig.
Die oorsaak van die brand is in hierdie stadium nog onbekend. Volgens lt.kol. Bertus Conradie, die stasiebevelvoerder van die Moorreesburg-polisie, is die voorval wel by die SAPD aangemeld, hoewel geen gemene spel of misdaad vermoed word nie.