Hof vir klein eise kan help as eis nie R20 000 oorskry

Die publiek kom dikwels na die polisie met sake wat eerder deur die kleineisehof hanteer moet word.


Die publiek kom dikwels na die polisie met sake wat eerder deur die kleineisehof hanteer moet word.

Volgens kapt. Tania Helfrich, woordvoerder van die Vredenburg-polisiekluster, wat 10 plaaslike polisiekantore – waaronder Piketberg en Porterville – insluit, moet diegene met dispute ten opsigte van die terugbetaling van lenings, huurders wat nie opdok nie of betaalde goedere wat nie ontvang is nie, altyd die kleineisehof nader, en nie die polisie nie, wanneer die waarde van die eis R20 000 of minder is.

Wanneer die eis meer as R20 000 is, kan die polisie betrokke raak. “Elke saak word egter individueel hanteer en hierdie sake is dikwels eerder siviele aangeleenthede.”

Helfrich het ’n paar wenke verskaf waarvolgens die publiek kan bepaal of hul eise vir die kleineisehof geskik is of nie:

Terugbetaling van geld wat geleen is

Wanneer jy R20 000 of minder aan iemand geleen het en die lener het dit nie teen die ooreengekome tyd terugbetaal nie, kan jy die saak na die kleineisehof neem.

Die eis van goedere wat jou toekom

As iemand goedere by jou gekoop het en nie daarvoor betaal nie, kan die saak in die kleineisehof besleg word, mits die goedere nie meer as R20 000 werd is nie.

Die eis van geld wat jou toekom

Wanneer jy ’n eiendom aan iemand teen R20 000 of minder verhuur en die huurder betaal nie teen die ooreengekome tyd nie, kan jy die saak na die hof vir klein eise neem.

Afdwing van ’n eis gegrond op ’n wettige dokument

As jy oor ’n wettige dokument beskik wat bewys iemand skuld jou R20 000 of minder, kan die kleineisehof genader word om die ooreenkoms af te dwing.

Eis vir skadevergoeding

As jy in ’n botsing betrok­ke was en jy kan bewyse gee dat die botsing die ander bestuurder se skuld was, kan die kleineisehof moontlik help. Die waarde van die skade mag egter nie meer as R20 000 wees nie.

Eise gegrond op krediet­ooreen­komste

As jy ’n sakeonderneming bestuur wat geld aan mense leen en jou krediteure betaal nie hul geld terug soos oor­eengekom nie, kan die klein­eise­hof genader word, mits die waarde van die eis nie meer as R20 000 is nie.

Eise wat nie deur die klein­eisehof hanteer word nie:
. Eise wat meer as R20 000 is;. eise wat teen die staat of plaaslike regering is;. eise wat teen ’n hofbevel of hofuitspraak is;. eise wat die geldigheid van ’n testament betrek; en. eise wat vir die amptelike kansellasie van ’n huwelik is.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.