Die Riebeek-Wes-polisie moes Vrydag (7 Februarie) bontstaan toe leerders van twee Malmesbury-skole mekaar leed wou aandoen.
Volgens ‘n polisiewoordvoerder het die leerders omstreeks 06:30 by ‘n busstop in die dorp gestaan en mekaar begin “met messe en stokke aanval en rondjaag”.
Die betrokke leerders is na Riebeek-Wes-polisiestasie geneem waar die voorval verder ondersoek en die leerders aangespreek is. Die skoolhoofde van beide skole is ook ontbied waar gesprekke tussen die leerders, ouers, polisie en hoofde plaasgevind het. ‘n Opvolgvergadering is Sondag (9 Februarie) by die Riebeek-Wes POP-sentrum tussen ouers en gemeenskapslede gehou.
Ouers en polisie was gister (Maandag 10 Februarie) op gereedsheidsvlak geplaas indien enige insidente sou kop uitsteek, maar geen voorvalle van bakleiery of oproerigheid is aangemeld nie.
“Die polisie doen ‘n beroep op ouers om betrokke te raak by kinders se doen en late, en seker te maak dat geen leerder met skerp voorwerpe soos messe of stokke skool toe gaan nie,” het die polisiewoordvoerder gesê.
Twee van die leerders wat in besit van messe gevind is sal môre (Woensdag 12 Februarie) in die Riebeek-Wes-hof op aanklagte van die besit van gevaarlike wapens verskyn.