Die wyse koning Salomo noem in die Bybel ’n paar baie interessante goed wat hy as te wonderbaar vind vir hom om te verstaan.
In die daaglikse lewe is daar ook ’n hele paar goed wat ek ook soms moeilik vind om te verstaan. Die afgelope week of twee het ek by meer as een geleentheid die woorde “public servants” gehoor.
Ek verstaan wat die woorde beteken. Wat ek egter moeilik vind om te verstaan is dat diegene wat hulself bereid verklaar het, of verleë genoeg was oor werk en hulself daarvoor ingelaat het om ’n “public servant” te wees, blykbaar vergeet het om dankbaar vir die werk te wees. Nou kom die onverstaanbare ding vir my.
Hoekom is sommige mense wat in sulke poste werk dikwels so onvriendelik? Baie keer lyk dit amper of die persone agter die dienstoonbanke vir jou kwaad is as jy hul nader om hulp. Nie ’n vriendelike uitnodigende glimlag of ’n vriendelike woord nie. Liewer ’n frons of ’n vinnige opwaartse kopbeweging wat jy as “praat maar” moet ontsyfer.
So dikwels verkondig die organisasie of diensleweraar se leuse “vinnige, vriendelike diens of “ons help graag” of “ons visie is om jou te dien”, maar dan laat die diens van sommige personeellede veel te wense oor.
Ek dink dis ’n klap in die gesig van die werksplek as hulle personeel nie hul leuse uitleef nie, veral as hulle vriendelike, bevredigende en hulpvaardige diens verkondig. Ek was verstom toe ek verlede week by ’n baie bekende bank in ons mooi dorp instap en na die hulptoonbank stap en so onvriendelik gehelp word. Mens voel eintlik sleg as dit gebeur en spyt dat jy die persoon se hulp moet vra.
Miskien doen so ’n werker goed in haar of sy werk, maar dan werk so ’n persoon net op die verkeerde plek in die stelsel. Die publiek is geneig om die etiket van onwillige en onvriendelike dienslewering om die nekke van hospitaal-, kliniek- en ook polisiekantoorpersoneel se nekke te hang. Dit is baie definitief nie net daar waar die publiek moet vinger wys nie.
Die vraag is: hoekom so kwaad lyk as jy my moet help? Is dit nie jou werk nie? Jy kan ook darem nie elke dag met die verkeerde voet uit die bed klim nie en al het jy ook, dit het niks met my te doen nie! Moet jy nie aan die werksplek se goeie naam dink elke keer as jy iemand moet help nie?
Ek vra maar net. Dit is regtig nie almal nie. Sowaar, daar is diegene wat baie professioneel optree en ’n groot bate vir hul werksplek is. Ek is van mening dat dit vir enigiemand ’n plesier moet wees om iemand anders te help. Maar dan moet dit darem in jou liggaamstaal en op jou gesig ook wys, anders werk jy op die verkeerde plek.
Ek dink as die “public servants” almal met wie hulle te doen het op dieselfde manier help, as wat hulle familie sal help, sal ondernemings en publieke plekke se beeld baie meer positief wees, hul kliëntegetalle die hoogte inskiet en hul ondernemings floreer