Hiermee wil ek die Robertson-skoupresident en sy komitee bedank en gelukwens vir die mooi werk wat by die skouterrein gedoen is en vir die muur wat agter die sinkstalle langs Kerkstraat opgerig is.
Dit is ’n groot verbetering vir die aansig van ons skouterrein en die ingang na ons dorp.
Ek onthou uit my kinderjare hoe ons altyd gepraat het van “ons gaan sinke toe” as ons skou toe gaan. Wat ek ook onthou, was die yskas van “Crown Drinks” met die groot stukke ys in, waar koeldrank by die skou verkoop is.
Ek het altyd een van Oom Frikkie Prins se beeste met die beesparade in die skouring saam met die ander kinders gelei. Dit was ’n groot oomblik vir ons, en wanneer ons klaar geloop het, het die oom vir ons elkeen ’n tiekie gegee.
Ek het gewoonlik dan vir my ’n botteltjie “Iron Brew” met my tiekie gekoop – uit die Crowns Drinks-kas met die groot stukke ys in.
Daarna kon ons kinders nie wag dat die skou moet klaarmaak nie, want dan word al die vrugte op uitstalling onder die kinders uitgedeel. Dit was sulke lekker tye!
Ons skouterrein is nou netjies en ’n sieraad vir Robertson.
Doen so voort!