Hercu hol 40ste Twee Oseane

Die 64-jarige Hercu Hofmeyr van Malmesbury het ’n groot mylpaal behaal toe hy Paasnaweek sy 40ste Twee Oseane-wedloop voltooi het – nie omdat Covid-19 twee jaar lank ’n stokkie voor die wedloop gesteek het nie, maar omdat hy betyds van ’n onlangse op


Die 64-jarige Hercu Hofmeyr van Malmesbury het ’n groot mylpaal behaal toe hy Paasnaweek sy 40ste Twee Oseane-wedloop voltooi het – nie omdat Covid-19 twee jaar lank ’n stokkie voor die wedloop gesteek het nie, maar omdat hy betyds van ’n onlangse operasie moes herstel.

“Die operasie om ’n geskeurde dyspier te heg, het my baie laat stres oor of ek vanjaar [aan] die Twee Oseane sou kon deelneem. Aan die een kant wou ek baie graag 40 wedlope in ’n ry voltooi. Aan die ander kant wil ’n mens nie verdere beserings veroorsaak nie, daarom het ek nie hierdie keer ’n goeie tyd nagejaag nie. Toe ek besef ek sal die eindpunt betyds haal, het ek myself toegelaat om soms te stap ook.”

Vir die half-afgetrede Hercu is deelname aan ultra-marathons so natuurlik soos asemhaal. Hy het hom in 1981 op marathons begin toespits nadat hy die vorige jaar sy nekwerwels ernstig tydens ’n Malmesbury-rugbywedstryd beseer het. “Ek kon nooit weer aan kontaksport deelneem nie, vandaar die drawwery. In 1981 het ek my eerste Skiereiland-, Twee Oseane- en Comrades-marathons in die kleure van die Helderberg-atletiekklub gehardloop. Die Swartland-atletiekklub is eers in die 1990’s gestig.”

En nou mik Hercu na sy 39ste Comrades-marathon. “Ek het een Comrades-wedloop minder gehardloop omdat ek in die jaar van my en Wilma se troue weer ’n nekbesering in ’n motorongeluk opgedoen het.”

Buiten verdere marathons sien Hercu uit na aftrede. “Wilma tree ook binnekort af, dan kan ons ’n bietjie saam rondloop en -toer.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.