Hadley Isaacs van Malmesbury het onlangs ’n bestuurspos aanvaar by een van die wêreld se grootste maatskappye.


“Dis die dinge wat jy doen wanneer niemand jou dophou nie, wat jou sukses in die lewe bepaal.”

Dit is juis dié wyse woorde van sy oorlede pa wat Hadley Isaacs (33) van Malmesbury gehelp het om vandag ’n topposisie by een van die grootste maatskappye ter wêreld los te slaan. Hy het vanjaar as bestuurder by die wêreld se nommer een brouery, Anheuser-Busch InBev, begin werk.

Isaacs het grootgeword op Malmesbury waar hy sy laerskoolloopbaan by St. Thomas Primêr deurgebring het. In 2005 matrikuleer hy by Schoonspruit Sekondêr, wat die basis gelê het vir die begin van sy toekomspad in wetenskap. Isaacs besluit om ’n BSc-graad in Chemiese Biologie aan die Universiteit Stellenbosch na te streef waarin hy boonop suksesvol was. Hy het skaars uit universiteit gestap toe hy in 2010 reeds ’n senior posisie by ’n maatskappy in Woodstock beklee het wat spesialiseer in voedsel-analise. Min het hy geweet dat hierdie geleentheid hom sou brei vir die sukses wat hy vandag geniet.

“Hier het ek geleer om met ’n diverse span te kan werk. Mense wat nie soos jy is nie of waaraan jy nie gewoond is nie,” vertel hy. Isaacs onthou nog vroegoggend se busritte na Kaapstad. Isaacs het ook altyd gesorg dat hy eerste by die werk opdaag en sy oorlede pa se woorde onthou. Sy pa het hom ook alewig herinner om altyd respek vir ander te toon, wat baie waardevolle raad was.

Isaacs besluit toe in 2013 om voltyds as student terug te keer na die US om sy nagraadse onderwysgraad te kry. Hoewel hy nooit gedink het dat hy eendag self sal klas gee nie, loop onderwys diep in sy are. Sy ma is al vir meer as 30 jaar ’n onderwyseres. Sy was ’n ware steunpilaar en het hom behoorlik geslyp wanneer dit by die klein dinge kom wat saak maak. Twee van sy familielede was boonop ook in die onderwys.

Isaacs skop sy onderwysloopbaan, onder leiding van Doh de Kock by sy eie laerskool, St. Thomas Primêr af, kort nadat hy sy nagraadse onderwyssertifikaat ontvang het. “Meneer De Kock was die perfekte leierskap onder wie ek kon begin as opvoeder. Hy het my baie van leierskap geleer en het ’n manier gehad om dinge gedoen te kry. Dít is vir my ware leierskap.”

Daarna volg drie jaar by Welgemeend Primêr, waar meneer Franscois Arendse op sy beurt vir Isaacs in ’n heel ander rigting laat ontwikkel het. Hier is hy blootgestel aan die administratiewe en bestuurskant van onderwys. Vir Isaacs, sal dié lewenslesse wat De Kock en Arendse by hom laat kweek het, hom altyd bybly.

’n Onderwysgraad was toe nie die einde van sy studies nie. ’n Hoër Sertifikaat in Algemene Bestuur by die Stellenbosch Graduate Institute, het in 2020 gevolg, met ’n diploma in Gevorderde Rekeningkunde en Finansies by die Londense Instituut vir Besigheidstudies in 2021. Hy wou die leer van sukses nóg verder klim en besluit toe om daardie selfde jaar sy honneursgraad in Besigheidsbestuur en Administrasie by die Regent Business School voort te sit.

Isaacs is tans druk besig met sy meestersgraad, ’n MBA (Meester van Besigheidsadministrasie) deur ’n besigheidskool in Duitsland van wie hy ’n 80% beurs ontvang het. Verskeie kort kursusse in projekbestuur maak die mandjie van prestasies ook behoorlik vol.

Isaacs het verlede jaar besluit om ’n groot kans te waag deur die onderwys in Junie te verlaat. Hy wou voltyds aandag aan sy honneursstudies gee, wat sy lewenspad uiteindelik in ’n ander rigting gestuur het.

Hy erken dat dít ’n groot besluit was wat risiko’s ingehou het, maar dit het baie waagmoed geverg.

“Ek verlaat toe dit wat aan my bekend was en begin die onbekende in te beweeg.”

Sy lewensleuse lui nie verniet nie “Om saam met God te wil loop moet jy veiligheid prys gee”. “Want in die onbekende is waar God se wil vir jou lewe gaan manifesteer,” verduidelik hy.

Sy harde werk werp vroeër vanjaar vrugte af. Hy aanvaar ’n bestuurspos by die Anheuser-Busch InBev, waarvan SAB Brouery deel uit maak. Hier gaan hy verskeie portefeuljes in werksmagbestuur, veranderingsbestuur en kennisbestuur lei en die band tussen alle aandeelhouers, kliënte en besighede in die hele Afrika-sone versterk. Die nuwe posisie val beslis binne die onbekende, maar hy sien baie uit na die nuwe uitdagings en verantwoordelikhede wat saam met die geleentheid kom.

Sy boodskap aan ander: “Moet nooit opgee nie.” Volgens Isaacs gaan alle situasies nie altyd in jou guns tel nie. “Sodra jy dit doen vir iets groter as jouself, dan haal jy die druk van jou skouers af. Daar gaan altyd kritiek wees van ander, maar skud dit af, veral as dit onregverdige kritiek is.

“Verbeter jouself elke dag en posisioneer jouself vir daar waar jy wil eindig in die lewe,” sluit hy af.

You need to be Logged In to leave a comment.