Harde inklimrugby woed

Moorreesburg (Samoa) het Saterdag (21 Mei) Wesbank toe gereis en die hoog aangeskrewe Wesbank bloed laat sweet vir ’n oorwinning in ’n Grootuitdaagbekerwedstryd van die Boland-rugbyunie.


Moorreesburg (Samoa) het Saterdag (21 Mei) Wesbank toe gereis en die hoog aangeskrewe Wesbank bloed laat sweet vir ’n oorwinning in ’n Grootuitdaagbekerwedstryd van die Boland-rugbyunie.

Wesbank is van die begin van die wedstryd af deur Samoa onder druk geplaas en kon nie die spel oorheers nie. Dit het sy ondersteuners bekommerd gemaak. Harde inklimrugby het die humeure van die toeskouers hoog laat loop, maar dis hoe groot wedstryde gewen word as die voorspelers nie mekaar beweegruimte laat nie.

Die eerste helfte is oorheers deur beide pakke swaar voorspelers in die vaste en losspel. Die agterlyne het goed teen mekaar opgeweeg, maar nie gapings vir beweegruimte gelaat nie.

Twee strafskoppe en ’n onverdoelde drie is deur beide kante in die eerste helfte behaal. Toe die skeidsregter sy fluitjie blaas om aan te dui dis rustyd, het die spanne water gaan drink met die telling op 11 elk.

Beide spanne se afrigters het hard met die spelers gesels en ná rustyd het die vleuel Brandon Erasmus ná ’n goeie agterlynbeweging gaan druk, wat deur Jaydon Markus verdoel is. Dit het Samoa ’n voorsprong van 18-11 gegee.

In die 16de minuut is Samoa gestraf vir ’n oortreding van ontoelaatbare spel, wat Wesbank se heelagter, Jemeul Thompson, die kans gegee het om die gaping tot vier punte te vernou – telling 18-14.

Twee vinnige strafskoppe deur die losskakel, Markus, in die bestek van twee minute het Samoa se telling vinnig tot 21-14 in die 20ste minuut laat aanrol.

Na ’n goeie beweging deur Wesbank-voorspelers is Samoa vir ongeoorloofde spel gestraf en Thompson het geen fout gemaak om nog drie punte by te voeg nie en die agterstand tot 21-17 laat krimp.

Goeie spel is soms deur swak beslissing van die skeidsregter benadeel, wat die skare en spelers gefrustreer het, maar dis hoe dit in elke wedstryd gaan, en spelers moet dit maar net aanvaar.

Met ’n agterstand van vier punte en omtrent vyf minute se speeltyd oor, het die uurglas vir Wesbank uitgeloop en sy ondersteuners het kriewelrig geraak.

Wesbank het skitterende spel in die laaste twee minute opgedis en Samoa moes keer vir die vale.

’n Drie in beseringstyd deur Wesbank se vleuel Eduwaan April het die skare laat bokspring.

Thompson kon egter nie met die doelskop slaag nie, maar dit was genoeg om die wedstryd 22-21 te wen.

’n Bulwedstryd wag op Wesbank wanneer hy Darling Saterdag 28 Mei in sy agterplaas pak nadat hulle Villagers van Wittewater met 64-24 afgeransel het.

Ander Grootuitdaagbeker-wedstryd-uitslae vir 21 Mei in die Swartland-streek:

Darling 64 – 24 Villagers Wittewater

Abbotsdale 24 – 10 Never Despairs

Koringberg 33 – 42 Good Hopes

Saron 36 – 21 Porteville

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.