Hammies hap Montagu

WORCESTER. – Soos ’n stoomtrein wat stadig van die platform af vertrek, dan spoed optel en uiteindelik met ’n dolle vaart voortsnel.


WORCESTER. – Soos ’n stoomtrein wat stadig van die platform af vertrek, dan spoed optel en uiteindelik met ’n dolle vaart voortsnel.

Dít is min of meer hoe die Grootuitdaagbeker-rugbywedstryd tussen Young Hamiltons van Worcester en Montagu Villagers Saterdag 21 Mei op Esselenpark-sportstadion beskryf kan word.

Die tuisspan het stadig begin, maar ná rustyd behoorlik spoed gevang en aan die einde van die dag besonders maklik met die besoekers afgereken.

Hammies, soos die span kortom bekend is, moes eers twee keer ’n agterstand uitwis – die eerste een van tien punte en later een van vyf punte – voordat hy uiteindelik 37-17 geseëvier het nadat hulle rustyd 17 elk gelyk was.

Tot op daardie tydstip het die besoekers goed rekenskap van hulself gegee. Die voorspelers het goed geskrum en gedryf en die agterlyn het ook sy kant gebring.

Ná sowat ’n kwartier se spel het die manne in die rooi-en-wit truie selfs ’n 10-0-voorsprong opgebou met ’n verdoelde drie en ’n suksesvolle strafdoel.

Die puntemakers op daardie tydstip was Handré Ontong (heelagter) en Jack van Wyk (regtervleuel). Ontong het ’n strafskop deur die pale gejaag en Van Wyk het ’n drie gedruk, wat ook deur Ontong verdoel is.

Die tuisspan, wat reeds drie nederlae op sy kerfstok het, was egter vasbeslote om hierdie keer die wa deur die drif te trek.

Dus het hy minute later verwoed aangeval. En hoewel sy skrumskakel oor die besoekers se doellyn was, is dié “drie” ná konsultasie tussen die skeidsregter en die lynregter nie toegeken nie.

’n Strafskop is wel aan die tuisspan gegee weens onkant spel deur die besoekers in die voorafgaande spel.

Hammies het vinnig getik en eers na regs, daarna na links, aangeval voordat Eudid Jacobs (buitesenter) in die linkerhoek oor is vir sy span se eerste drie. Die doelskop deur Ambrose Steyn (losskakel) was egter mis (10-5).

’n Rukkie later het die tuisspan sy agterstand in ’n voorsprong omgeskep ná ’n lelike blaps deur die besoekers se heelagter.

Die tuisspan het die bal veld-af geskop en Ontong het ’n oordeelsfout begaan deur die bal te laat spring. Dit het weg van hom af die lug in gespat, waarna Claudio Mattola (regtervleuel) wat opgevolg het, dit uit die lug gepluk en gaan druk het. Steyn het verdoel en Hammies het die voortou geneem met die telling 12-10.

Minute later het die besoekers egter die bordjies weer verhang toe Ashley Monck (buitesenter) die tuisspan se verdediging oopgekloof en sy span se tweede drie onder die doelpale gedruk het. Ontong het verdoel en daarmee weer die leisels aan sy span oorhandig met die telling 17-12.

Kort voordat die rustydfluitjie sou blaas, het ’n vasberade tuisspan sake egter weer gelyk gemaak ná pragtige ondersteunende spel deur die linkervleuel, Riyaaz Pietersen.

Dit was ná ’n Hammies-lynstaan, waarvandaan die bal na die agterlyn versprei is.

Mattola (regtervleuel) het die bal op die punt ontvang en langs die kantlyn af genael. Toe hy gestuit word, was Pietersen, wat van oorkant gekom het, aan sy binnekant.

Mattola het die bal binnetoe na Pietersen aangegee, wat afgerond het.

Die doelskop was agter mis en rustyd het aangebreek met die spanne gelyk met 17 punte elk.

Ná rustyd was dit ’n eensydige affêre wat punte aanbetref, met slegs die tuisspan wat die tellinghouers besig gehou het.

Dit is nou nie asof die besoekers nie probeer het nie. Inteendeel, hulle het af en toe met sterk lopies, wat groot belofte ingehou het, vorendag gekom, maar kon eenvoudig nie deur die tuisspan se rotsvaste verdediging dring nie.

Boonop was die tuisspan se skrums in die tweede helfte ook stewiger as vroeër. Trouens, die tuisspan het die besoekers se skrums selfs ’n paar keer in trurat gehad en dit het die hele span op die agtervoet gedwing.

Daarby het die blou truie se stoomkrag net eenvoudig toegeneem namate die wedstryd gevorder het.

Hammies het in die tweede skof 20 onbeantwoorde punte opgestapel. Dit het twee verdoelde drieë en twee strafdoele ingesluit.

Eers het Mattola sy tweede drie van die wedstryd gaan druk. Die grondslag was ’n goeie skrum deur die tuisspan, waarna Steyn (losskakel) die bal van sy skakelmaat ontvang en ’n goed gekorrelde skop-aangee na Mattola (vleuel) gestuur het.

Dié het die bal gevang, deurgedraf en agter die doelpale afgerond. Steyn, wat vroeër in die tweede helfte met ’n strafskop geslaag het, het Mattola se tweede drie ook verdoel.

Later het Ashwell Kleyn (binnesenter) ook agter Villagers se doellyn gaan kuier. Luciano Truter (heelagter) het Kleyn se drie verdoel en later nog ’n strafdoel bygevoeg.

’n Relletjie wat vroeër tussen die spelers uitgebreek het, is vinnig deur die skeidsregter, Marshall Rooi, in die kiem gesmoor. Hy het die skuldiges – die besoekers se nommer 6-flank en die tuisspan se heelagter – vir tien minute koelkas toe gestuur om oor hul oortredings te gaan besin.

Die tuisspan het nietemin die wedstryd oortuigend en welverdiend 37-17 gewen.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.