Verlede Sondag, toe ek saam met ’n anderste motorbestuurder ry en ons op ’n nuwe roete beland, raak ek so bly ek het ingeklim. As ek nee gesê en tuis gebly het, sou ek die Boland in sy blokkieskombers van lieflike herfskleure misgeloop het.
Dadelik dink ek terug aan my kinderjare se Maltese hondjie wat – sodra hy agterkom ons maak reg om iewers te ry – altyd eerste in die kar was. Ons gesinslede het later jare spottend vir mekaar ‘Maltesie’ genoem as iemand altyd reg was vir saamry, maak nie saak waarheen nie.
En terwyl Somerset-Wes en Stellenbosch sy mooiste okergeel, roesbruin en oranjes vir ons wys, onthou ek die ware verhaal van kinders uit ’n gesin wat moes kies of hulle die eerste of tweede sirkusvertoning wil gaan kyk. Hulle finansies was beperk en die kinders het besef daar’s wel geld vir die eerste sirkusdatum – sonder enige versekering van finansies vir die tweede keer. “We’ll take the first one”, het hulle eenparig besluit.
Sedertdien was dit daardie gesin se lewensingesteldheid: Gryp die eerste kans aan – die tweede geleentheid kom dalk nooit weer nie.
Net daar besluit ek om voortaan “yes” vir die lewe te sê.
Wie onthou Linda Kriel se geoefenry op die TV?
In programme soos Kry daai lyf en Body Beat het sy in die 1980’s Suid-Afrikaners behoorlik aan’t oefen gekry. Op TV, in vrouetydskrifte – in haar hooggesnyde oefenleotard was sy dié verpersoonliking van fiksheid en energie. Al het vele manne om al die ander redes na haar gekyk, kon ek my verstom aan dit wat sy met net een stoel aanvang om maag- en dyspiere fermer te kry.
Linda se “Mooi maag”-plan en “Eet reg, oefen reg”-veldtogte het glad verloop toe iemand besluit om ook ’n manlike oefen-guru saam met Linda te laat oefen. Asof twéé hiper-fikses op een televisieskerm nie reeds genoeg is nie, het hierdie man (ongelukkig deesdae naamloos in my geheue) die lewenshouding van “yes” vir die lewe gehad.
“Yes” was sy motto, “Yes” was op sy oefenhempie gedruk en as ek reg onthou, het hy hierdie drieletterwoord dikwels ook in sy teks gebruik. Daagliks.
‘Hy laat my so moeg voel,’ het Jan Alleman dan gekla oor hierdie hiper-energiekheid op die skerm.
“Dalk het hy toe reeds iets van die lewe besef – iets wat sommige mense heeltemal te laat in hul koppe kry,” dink ek Sondag, terwyl herfs in al sy mooi voor my oë verby gly.
En ek besluit om voortaan meer dikwels ja te sê – ry saam; koop die kaartjie en gaan fliek, toer, skaats of gym. Verbreed jou horisonne, gryp die lewe in al sy seisoene aan.
Oorwin die moeilike resep, kry die kwalifikasie waarvan jy lankal droom, leer swem of bestuur, leer perdry, roei of skilder. Jaag jou droom na, want as dit nie Covid is nie, sal ’n ander wilde perd wel jou drome probeer kelder.
Sê nie nee nie, sê ja, sing Lieze Stassen so mooi in Bokkie.
En ek stem heelhartig saam.