Groot nee vir vandalisme

Die voorblad van die mees onlangse Breederivier Gazette (Petrolbom-verwoesting, 4 Augustus) het my geweldig ontstig. Soveel so dat ek eers ’n lang ent moes gaan stap dat my bui kan sak voor ek dié brief begin skryf het. Voorvalle soos dié is genoeg om die mees geduldige mens se bloed te laat kook. Wie dink…


Die voorblad van die mees onlangse Breederivier Gazette (Petrolbom-verwoesting, 4 Augustus) het my geweldig ontstig. Soveel so dat ek eers ’n lang ent moes gaan stap dat my bui kan sak voor ek dié brief begin skryf het.

Voorvalle soos dié is genoeg om die mees geduldige mens se bloed te laat kook. Wie dink hierdie vandale is hulle dat hulle reg in eie hande kan neem en iemand anders se eiendom só kan beskadig. Die ironie is dat dit, in ’n mate, eintlik hul eie eiendom is synde dit húlle belasting is wat daarvoor help betaal is. Of is hulle dalk nie belastingbetalers nie?

Mens word oral gebombardeer met wetteloosheid en geweld. Dis om van siek te word!

Deesdae is dit ál of mense hulle al meer tot misdaad wend om ’n standpunt te stel of ’n grief te lug. Ontevrede oor sanitasie? Kom ons bombardeer ’n internasionale lughawe met ontlasting! Ongelukkig oor gebrekkige dienslewering? Kom ons brand ’n biblioteek of kliniek af! En die mees ironiese deel? Môre word daar weer betoog of klippe gegooi oor daar nie ’n biblioteek of kliniek is nie!

Ek het simpatie met diegene wat in geweldig moeilike omstandighede ’n lewe probeer maak, maar deur honderde ander te verontrief, dikwels jou eie bure en vriende, omdat jy omgekrap is oor iets is nie die uitweg nie.

Die voorval in Bonnievale ontlok by my géén simpatie met wat ook al dié vandale se griewe was nie. Wat my betref is hulle nou bloot kriminele. Het hulle die korrekte roete gevolg en hul griewe om ’n tafel bespreek, was dit ’n ander saak. In stede daarvan is miljoene rande se skade aangerig. Geboue en voertuie wat met mý en ander belastingbetalers wat al kruppel betaal is en óók sukkel om kop bo water te hou, se geld gebou en gekoop is.

Ek hoop die skuldiges word baie vinnig gevang en dat hulle duur vir hul laakbare optrede sal betaal. Intussen, tot die skade herstel is, sal die onskuldiges seker maar moet opsnork omdat ’n handjievol besluit het om die reg in eie hande te neem

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.