‘n Soektog waarby die polisie se honde-eenheid betrek is, is in Gouda onderweg nadat ‘n 68-jarige vrou, wat vermoedelik aan Alzheimer se siekte ly, verlede Donderdag (17 Julie) spoorloos verdwyn het.

Die polisie en gemeenskapslede het vandeesweek die beboste landelike gebiede oos van Gouda gefynkam op soek na Katriena Smit, wat volgens haar dogter op pad huis toe waarskynlik verdwaal het.

Volgens Lee-Ann Smit, haar dogter, het haar ma, stiefpa en hul kleinkind Donderdag (17 Julie) huis toe gestap. Die een oomblik het haar ma nog agter gestap en toe haar stiefpa weer omkyk, was Smit weg.

“My stiefpa het toe hier by die huis kom vertel dat hy nou nie weet wat van haar geword het nie. Ons het toe dadelik na haar gaan soek.

“Toe dit Donderdagaand begin donker raak, was ons regtig bekommerd.

“Ons het deur die nag na haar gesoek. Mense het gesê hulle het haar naby die vleilande by die waterblommetjies gesien. Dis waar ons daardie nag gaan soek het,” het haar bekommerde dogter verlede week vertel.

Volgens haar ly haar ma waarskynlik aan Alzheimer se siekte, maar is dit nog nie formeel deur ‘n dokter by haar gediagnoseer nie.

“Die laaste tyd was sy baie deurmekaar. Sy het gepraat van mense uit haar grootwordjare daar in Porterville; mense wat ons nie ken nie.

“[My stiefpa] het na hulle gaan soek en ons het later vasgestel baie van die mense van wie sy praat, is lank reeds oorlede.

“Sy is glad nie iemand wat ronddwaal nie, dus vermoed ons dat sy moontlik deurmekaar geraak het en dalk iewers is sonder dat sy weet haar familie soek na haar. Ons wens is dat ons haar veilig sal vind,” het Smit gesê.

Volgens Smit het haar stiefpa tydens Donderdagaand se soektog sy been in ‘n sloot beseer. Hy is in die Porterville-hospitaal behandel.

Katriena is as by die Tulbagh- polisiekantoor vermis aangemeld.

Die polisie kon nie vandeesweek vir kommentaar bereik word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article