Dit is nie aldag dat jy ’n reusespinnekop wat groter as jou voertuig is, langs die pad gewaar nie. Dié spinnekop is gelukkig vriendelik, groet almal met ’n glimlag en is onder andere gemaak van pype, pale en ’n strooibaal.
Die ontstaan van dié nuutste “inwoner” van die plaas Klipfontein, tussen Malmesbury en Darling, was die geesteskind van die tweelingsusters Beandré en Christel Kirsten, wat wou seker maak hul pa, Andries, of eerder Oubaas Kirsten, soos hy alom bekend is, nie te veel na hulle verlang nie. Hulle het die huis vroeër vanjaar verlaat om by die Noordwes-Universiteit (NWU) te gaan studeer.
Maar hoekom ’n spinnekop, van alle dinge? “Hul pa moet altyd hul held wees, en al wat ’n spinnekoppie is, kom verwyder of red van ons gille en die blik Doom,” vertel sy vrou en die tweeling se ma, Mariëtte. Nádat hulle by NWU aanvaar is, het Mariëtte en haar dogters eendag ’n soortgelyke spinnekop-karakter uit strooi gemaak, op ’n Amerikaanse televisiekanaal van DSTV raakgesien, verduidelik sy. Díe susters het daar en dan besluit om die oulike gedierte as ’n verrassing vir hul pa te bou en in die veld teen die pad staan te maak, brei sy verder uit. Volgens haar is hul dogters dol oor die plaas en hul pa, en dié spinnekop sou hom daagliks herinner dat hy steeds hul held is, al is hulle vir nou nie by die huis nie.
Die plaaslike nutsman, JP van der Merwe, beter bekend as Worsie, is genader om hulle met die bou van dié spinnekop te help, sonder dat hul pa snuf in die neus sou kry. Beandré en Christel het die strooibaal saam met een van die trekkerdrywers gaan haal en in die veld gaan aflaai, terwyl Worsie intussen die spinnekop onder groot geheimhouding gaan bou het. “Amper het Oubaas gedink iemand was besig met kattekwaad en hul verrassing gefnuik, maar ons het hom gou verwilder en gesê dit is ’n verrassing vir hóm,” vertel Mariëtte.
Hul pa was behoorlik uit die veld geslaan toe hy die spinnekop die eerste keer sien. Sy dogters het hom opdrag gegee dat hy nie die spinnekop mag verwyder voordat hulle vandeesmaand weer huis toe kom nie. Die tweeling se pa was egter so beïndruk met sy agtvoetige vriend dat hy nóg een laat bou het. Dié tweede spinnekop staan nou by die groot boom in die wingerd, wat die afgelope naweek baie aandag deur besoekers van die jaarlikse Parsdag, aangebied deur Darling Cellars, geniet het.
Parsdaggangers het gedurende die dag druiwe op Klipfontein kom pluk. Oubaas en sy dogters het gedink dit sou oulik wees om nóg ’n spinnekop te laat maak waarby die besoekers kon foto’s neem.
’n Blou-en-geel vlag is by die “Grootboom-spinnekop” opgerig om Darling Cellars se solidariteit en steun vir Oekraïne te wys.