Die All Saints-rugbyklub het Sondag 5 Desember sy tweede jaarlikse gholfdag met groot sukses by die Fairview-gholfbaan in Gordonsbaai aangebied.
Die geldinsamelingsgeleentheid is deur ywerige gholfspelers van Somerset-Wes en omliggende gebiede ondersteun.
Die aksie op die gholfbaan het die vorm van ’n enkel-spankompetisie geneem, met spanne wat in twee afdelings meegeding het.
Die A-afdeling is deur Randal Thomas gewen, gevolg deur V. Cloete in die tweede plek en Winston Williams in derde plek. In die B-afdeling het C. Cloete met die louere weggestap, gevolg deur V. Paige (tweede), A. Arendse (derde), J. Jacobs (vierde) en H. Coete (vyfde).
Al die geld wat op die dag ingesamel is, sal ten bate van die klub se administrasie aangewend word. Die klub het sy dank aan Neal Jacobs, Errol Appolis en Brendon Bell, die reëlingskomitee, uitgespreek vir die puik organisering en aanbieding van die suksesvolle dag.
Die komitee het op sy beurt sy dank aan die volgende borge uitgespreek: Die De Zalze-gholflandgoed, Buco Somerset-Wes, Helderberg Service Centre, DistriksPos, Caltex Somerset-Wes (Victoriastraat), Alric Tool Hire, Cape Plumbing & Bathroom, Savemore, Adnaan Robertson, Prime Cuts, Zephron Plumbers, AJ Cleaning Products, Nazaar, Bellville Glass, Somerset West Trailers, Ruben Riffle, Irvin October en Fingerprint Cooperative Ltd.